Liewe Leser
Ek het sowat agt jaar gelede saam met ’n vrou aan ’n ontwerpprojek gewerk wat haar na aan die hart gelê het. Sy het kanker gehad en wou haar familieresepte aan die opkomende geslagte in ’n saamgestelde boek oordra. Dié boek was spesiaal, omdat ons haar lewensverhaal reg deur die boek ingewerk het met foto’s wat haar storie ondersteun. Soos wat die kyker deur die resepteboek blaai, so verouder sy in elke foto. Met die ontwerpproses het ek agtergekom dat dié projek moontlik haar laaste kon wees, daarom het sy al haar tyd en energie ingesit deur die resepte met die hand neer te skryf en self die foto’s uit te kies. Een van die opmerkings wat sy gemaak het, was: “Dit moet spesiaal wees en dit moet iets vir my mense beteken.” Dit was vir my mooi om ’n bejaarde se wilskrag te sien om vir oulaas iets aan te pak.
Op ons plaas is daar twee damme; albei was my oupa se bouprojekte. Een dam is voltooi en dikwels vol water. Die ander dam het hy as gevolg van sy gesondheid nooit klaar gebou nie en dit staan tot vandag toe nog leeg. Deur die jare het ons dikwels na die veld gekyk, en kon nie glo dat daar veronderstel is om twee damme te wees nie. Met die eerste oogopslag sien jy net al die projekte wat my oupa aangepak en suksesvol voltooi het.
Ná my oupa se afsterwe het my ouma ’n nuwe projek gehad: om die plaas te bestuur en my oupa se nalatenskap te bewaar. Alhoewel sy dié uitdaging nie gekies het nie, het sy gekies om steeds op die plaas te bly, want dit was haar plek en my oupa se handewerk is orals sigbaar.
As ons een les hieruit kan leer, is dit dat ons ons projekte altyd moet aanpak asof dit ons laaste is. Soms stel ons iets uit, omdat die lewe ons met ander dinge besig hou wat ons volle aandag verg. Ons handel projekte af, sodat ons die volgende projek kan aanpak. Hoe meer projekte ons het, hoe skraler is die kans dat ons tyd het om stil te staan en te kyk waaraan ons gewerk het en dit te waardeer. Wat sal gebeur as ons anders na ons projekte kyk? Watter impak sal ons maak as ons weet dat die projek waaraan ons werk ons heel laaste projek sal wees? Hoe sou dit ons benadering tot werk, fokus en kwaliteit beïnvloed?
Gryp elke geleentheid aan, pak elke projek met ywer en toewyding aan en leef jou lewe só asof dit jou laaste dag gaan wees, want die lewe op sig self is ook ‘n projek.
Hilde
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5
