Liewe Leser

Op die plaas sien ons soggens heelwat spinnerakke op die gras. Deur die loop van die dag verdwyn die oggenddou en die spinnerakke stuk-stuk – so amper asof die spinnekoppe hul spinnerakke soos ’n tent afslaan en dit die volgende oggend weer opslaan om die oggenddou op ’n ander plek vas te vang. So onvoorspelbaar soos wat die natuur kan wees, so spin die spinnekop ook sy web getrou met die moontlikheid dat dit iets kan vang.

Ek het ‘n rukkie terug met ‘n mentor gesels wat gesê het as hy na ander mense se uitdagings kyk, is hy dankbaar vir die pakkie wat die lewe vir hom uitgedeel het. Dit beteken nie dat sy pakkie sonder uitdagings is nie, maar eerder dat hy dankbaar is vir die uitdagings wat hy self moet hanteer.

Om dankbaar te wees in tye wanneer dit goed gaan, is maklik. Ek ervaar en sien egter dat ons die ware krag van dankbaarheid eers tydens die moeilike – en selfs donkerstetye ontdek, want jou uitdagings gee jou perspektief. Dit wys vir jou wat jy reeds het en wat jy kan beheer en moet waardeer. Hoe minder ons dink ons het, hoe meer waardeer ons wat ons het en wie vir ons geleen is. Dankbaarheid gee nie net vir ons perspektief nie, maar die wilskrag om vooruit te gaan.

As ons in alle omstandighede dankbaar is, verbeter ons nie net ons eie welstand nie, maar is die kanse ook goed dat ons ‘n positiewe impak op ander kan hê.

In 1 Tessalonisense 5:15-28 staan daar dat ons in alle omstandighede dankbaar moet wees, omdat dit God se wil is.

Ja, wees in alle omstandighede dankbaar, liewe Leser. Selfs ’n spinnekop ervaar droë seisoene; nogtans spin hy sy spinnerak getrou, omdat dit van hom verwag word.

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5