Liewe Leser

Wanneer ek aan my kinderdae dink, ruik ek vars gebakte brood in ‘n warm kombuis en voel my ma se sagte hand wat my hare agter my oor invee. Ek onthou die dae toe my drome nog vry en ongebroke was. Miskien onthou jy ook soms sulke dae? Miskien het jy ook kaalvoet in die son gespeel of met ‘n boek in jou hand onder ‘n kombers weggekruip. Hoe jou herinneringe ook al lyk, een ding is seker: Êrens was daar iemand wat vir jou gesorg het. Iemand wat jou onvoorwaardelik liefgehad het en jou herhaaldelik daaraan herinner het dat jy veilig is. Wie was dit, liewe Leser?

Vandag is ons oud genoeg om te weet dat nie almal soortgelyke goeie herinneringe aan hul kinderdae het nie.

By Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek en Sentrum sien ons dit elke dag: Kinders wat nie weet waar hul volgende bord kos vandaan gaan kom nie en kleintjies wat nie meer vrae vra nie. Jong harte moes te vroeg grootword en bejaardes wag in eensame kamers op ‘n besoek wat net nie kom nie. Daar is ook mense met gestremdhede wat meer struikelblokke as geleenthede op hul pad vind.

Afgesien hiervan is daar hoop, omdat ons vir jou het.

Elke sentrum, elke projek, elke stukkie hulp begin met ‘n hand wat uitreik. Dit begin met ‘n hart wat onthou hoe dit voel om geliefd en versorg te wees – en wat daardie gevoel wil teruggee. Dit begin met ‘n plek waar drome weer wakker gemaak word, waar waardigheid herstel word, en waar ons kinders, bejaardes en mense met gestremdhede se welstand bevorder word.

Liewe leser, vir die eerste keer skryf ek nie net ‘n brief nie. Ek nooi jou uit om betrokke te raak.

Onthou jy hoe dit gevoel het toe jy veilig was? Saam kan ons verseker dat geen kind alleen grootword nie, dat geen bejaarde vergeet word nie en dat geen mens sonder ‘n plek voel in ‘n wêreld wat ‘n bietjie anders lyk nie. 

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5