Liewe Leser

Een van my gunstelingherinneringe aan my kinderdae is die slaaptydstories wat my pa vir my en my broer en suster net voor Boekevat en slapenstyd gelees het. Kinders het oor die algemeen baie energie, en meer as een kind kan dinge nogal uitdagend maak as al die kinders nie ewe moeg is nie. In ons huis was ons drie kinders, daarom drie keer meer energie. 

Wanneer slapenstyd aangebreek het, het ons drie kinders elkeen veilig en beskut met ‘n botteltjie tee op ‘n bed gesit en na ‘n slaaptydstorie geluister wat my pa voorgelees het. Die stories het gewissel van storieboeke tot tydskrifuitknipsels wat my ma vir ons veilig in ‘n folioboek bewaar het. Soms was dit Afrikaner-verhale soos dié van Racheltjie de Beer of Wolraad Woltemade.

Hoe opwindend was dit nie as my pa aan die einde van die storie sy oë toegemaak en self ‘n einde uitgedink het nie! Wat in die illustrasies gewys word, het nie altyd ooreengestem met wat hy vertel het nie.

Alhoewel my pa baie kreatief kon raak met sy stories, was ons soms wakker genoeg om hom uit te vang. Ander aande het hy weer vir ons ore aangesit en ons laat glo dat sy verbeelding uit die storieboek kom.

Dié speletjie het my later geleer dat dit broodnodig is om vir myself te dink; ‘n mens moenie sommer vir enige storie val nie. As jy vir niks staan nie, gaan jy vir enigiets val. Daarom is dit nodig om self te lees, die regte vrae te vra, ‘n bietjie verder as jou neus te dink en nie alles vir soetkoek op te eet nie.

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5