Liewe Leser

‘n Paar weke terug ontvang ons ‘n e-pos van ‘n bejaarde wat my brief gelees het en laat weet het dat hy op die ouderdom van 83 jaar steeds nie iets in die lewe bereik het nie. My moed het in my skoene gesak, want ons almal is arm aan iets.

Dikwels besef ons nie dat armoede nie net iets is wat ‘n mens aan geld en besittings meet nie, maar ook aan tyd, liefde, hoop en welstand. Ja, liewe Leser, as ons so daarna kyk, is selfs die rykste mense arm aan iets.

Soms is daar nie ‘n behoefte aan geld of besittings nie, maar eerder aan geleenthede, liefde en empatie. As ons versuim om mekaar te ondersteun met onvoorwaardelike liefde en opregte waardering, kan dit ons los met ‘n gevoel van hopeloosheid.

‘n Gebrek aan in liefde, tyd, hoop of drome is dinge wat ons hele menswees aanraak en wat geld nie noodwendig kan koop nie. As ons ryk is aan liefde, hoop en tyd kan ons mekaar se welstand bevorder deur ‘n bietjie daarvan vir ander te gee wat min daarvan het. 

Adam Tas en Stella sing: “Ek is ryk, want jy het my lief.” Hoe mooi is dit nie om te weet dat iemand ryk is juis omdat iemand ander hul lief het nie? Ons almal is arm aan iets, maar ons elkeen het ook iets in oorvloed wat ons vir mekaar kan gee. Die kuns is om nie vas te kyk in dit wat jy nie bereik het of nie het nie, maar eerder om te waardeer wat jy het, juis omdat iemand anders daaraan arm is. 

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5