LIEWE LESER: ONS IS TERUG
Liewe Leser
Op die plaas vind ek sielsrus in die natuur. Dis 'n plek omring met berge, bosbouplantasies en melkkoeie wat in die velde wei.
Ek het onlangs vir 'n vriendin in die Kaap vertel dat ek elke dag na die berge verlang, want daar is iets aan 'n berg wat 'n mens stil maak en my aan God se grootheid herinner. My voorouers het die berge op die plaas . Ja, liewe Leser, in 'n berg kan God se karakter duidelik sigbaar wees. God het nie berge gemaak om ver weg te wees nie, maar om ons daaraan te herinner dat Hy groter as enigiets is wat teen ons staan.
Om in die stad sonder 'n berg te bly, was vir my 'n aanpassing. Nuwe mense, kollegas, geboue en kulture. Soms het dit vir my gevoel asof ek in die lewe se gejaag na God se grootheid moet soek. Mettertyd het ek agtergekom dat 'n berg nie altyd nodig is om jou aan God se grootheid te herinner nie, maar dat jy dit in mense se onbaatsugtige dade kan sien.
Kyk mooi, liewe Leser … Want in hierdie harde wêreld is daar mense wat God se grootheid soos berge dra. Dis die mense wat in storms vasstaan, skadu vir ander bied, en jou met hul woorde tot stilstand kan bring. Hierdie mense is nie groot omdat hulle sterk is nie, maar omdat hulle in hul geloof geanker is.
Psalm 62:7 verduidelik dit baie mooi. Daar staan: "Net Hy is my rots, my verlossing, my toevlugsoord. Ek sal nie wankel nie." [AFR20]
Liewe Leser, ons is terug en staan pengereed om vir jou briewe te skryf. My wens vir jou vir hierdie jaar is dat jy God se grootheid in alles sal raaksien. God werk deur mense. Mag jy hierdie jaar sy grootheid ervaar.
Voorspoedige nuwe jaar!
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5