Liewe Leser

Brief 11

Albert Einstein word as een van die grootste wetenskaplike figure van alle tye beskou. Dié teoretiese fisikus is bekend vir sy voorstelling van die relatiwiteitsteorie, wat later ook ‘n groot invloed op die ontwikkeling van kwantummeganika, statiese meganika en kosmologie gehad het. In 1921 is  die Nobelprys vir fisika aan hom toegeken vir sy verduideliking van die fotoëlektriese effek. Dis duidelik dat hy buitengewoon slim was.

Interessant genoeg was daar 121 wetenskaplikes wat nie met sy spesiale relatiwiteitsteorie saamgestem het nie. Daar is ook ‘n boek, 100 Authors against Einstein: A Look in the Rearview Mirror, in Duitsland gepubliseer. Outeurs uit verskeie lande soos; Tsjeggo-Slowakye, Finland, Frankryk, Italië, Nederland, Swede, Switserland en die Verenigde State van Amerika, het saam gekom om Einstein se relatiwiteitsteorie te verwerp. Baie van die skrywers het vanuit ‘n wiskundige en fisiese wetenskap oogpunt verduidelik waarom Einstein se teorie verkeerd is. Daar was selfs ses skrywers wat die spesiale relatiwiteitsteorie op grond van filosofiese en godsdienstige denke verwerp het. Ja, liewe Leser, dit wil voorkom of die wêreld teen Einstein gedraai het.

Einstein het glo soos volg op die boek gereageer:”As ek verkeerd was, sou net een skrywer genoeg gewees het.” Ironies genoeg het nie een van die skrywers sy relatiwiteitsteorie toegepas nie. Hulle het dit bloot op grond van arrogansie, onkunde, ontkenning en vooroordeeling verwerp.

Miskien kan ons hieruit leer en besef dat nie almal by jou gaan staan wanneer jy ‘n deurbraak maak nie, en dat een mens of organisasie wat bereid is om deur dik en dun by jou te staan, oorgenoeg kan wees. Wanneer dit sleg gaan, is ons houding dikwels “dis ons teen die wêreld”, maar eintlik worstel ons met onsself. Die wêreld skuld ons niks. Ons onderskat die invloed wat ons kan hê op iets wat heelwat groter as ons is, juis omdat die uitkoms daarvan ligjare ver voel. Einstein het selfvertroue in sy werk gehad. Dalk moet ons die moed bymekaarskraap en kyk wat ons kan regkry as ons met soortgelyke selfvertroue hande vat om uiteindelik ‘n volhoubare verskil in die wêreld te maak.

Hilde

Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5