Liewe Leser
Brief 12
Dawn Bevier skryf in een van haar artikels, “The Drawbacks of Giving Too Much” (2021), as jy te veel van jouself vir ander gee, gee jy dikwels jouself ook en nie net jou tyd nie. Sy verduidelik dat, dit gewoonlik meer skade as goed sal doen, want dit kan jou stukkend, leeg en uitgeput laat. Boonop kan dit jou geluk en identiteit ook kos.
As ons Bevier se stelling ingedagte hou, kan ek verstaan waarom ons kies om stukkies van ons eerder vir onsself te hou. Ons hou dit, want dis al wat ons oor het. Ons hou dit, want ons vertrou min; daarom gebruik ons dit spaarsamig en beskerm dit met ons lewe. Ja, liewe Leser, dis hoe ons ons lesse leer: deur seer te kry en met die stukkies te sit. Vandag weet ons van beter.
Dit laat my wonder waarom ons so versigtig is om vir hulp te vra in die tyd wanneer ons dit broodnodig het. Miskien het ons opgehou om vir hulp te vra, omdat mense nie juis meer vrywillig hulp aanbied nie. Ons hou terug, want ons trots hang aan ’n draadjie. Ons distansieer ons wanneer dit moeilik gaan, want ons is kwesbaar, en om broos voor ’n gebroke wêreld te staan, verg waagmoed.
Volgens Heb.11 het die geloofshelde van die verlede almal gesterf sonder om te verkry wat beloof is – ons sal ook so sterf. Intussen moet ons hard stry en volhard soos mense wat die onsienlike sien. Die vraag is nie of jy hier kry wat God belowe nie, maar eerder of jy in die geloof volhard.
Miskien moet ons begin besef dat die verandering wat ons so graag wil sien, juis gebeur wanneer ons ons trots sluk en besef dat die uitdagings waarmee ons sit heelwat groter is as wat ons dink. Dalk moet ons dit waag om ’n stukkie van onsself te gee, selfs al sukkel ons soms om die onsienlike raak te sien – nie net omdat dit ’n verskil kan maak nie, maar ook omdat die kanse goed is dat die stukkies wat ons aanvanklik wou gee, metter tyd sal vermeerder en uiteindelik weer sal heel word.
Hilde
Helpende Hand