Liewe leser

Brief 14

In my kleuterjare het ons as gesin gereeld laatmiddae in die parkies gaan stap. Ja, liewe Leser, in daardie dae was dit nog veilig. Wanneer ek saam met my ouers gaan stap het, het ek gewoonlik my stootwaentjie met my gunsteling pop saamgeneem. Miskien was dit vir my nodig om my speelgoed saam te vat juis omdat ek ‘n verantwoordelikheid soortgelyk aan dié van my ouers wou hê: My ouers kyk na my, daarom kyk ek na my pop.

Een middag wou ek dié verantwoordelikheid ‘n bietjie verander. Soos elke middag het ons my sandale aangetrek en het ek die stootwaentjie gereed gehad – hierdie keer net sonder die pop. My ouers het nie verstaan waarom ek ‘n leë stootwaentjie saam met my wou neem nie, maar het toe besluit om my te los en te kyk hoe die storie afloop. Soms moet jy kinders toelaat om hul eie inisiatief te neem, want dis hoe ons leer en mekaar verbaas.

Nie lank nie of my ouers het agter die kap van die byl gekom: Soos wat ons stap, het ek ‘n poging aangewend om lewelose voëltjies in die veld op te tel en in die waentjie te sit. Ek het gedink hulle is siek, daarom wou ek hul huis toe vat en gesond maak. My ouers het my vinnig gekeer en verduidelik dat ek nie aan lewelose diere mag vat nie. Dit het my natuurlik in trane gehad, want die verantwoordelikheid wat ek wou neem om dié voëltjies ‘n tweede kans te gee, was daarmee heen.

Mettertyd het ek agtergekom dat ek steeds die neiging het om afvlerkvoëltjies, sonder ‘n waentjie, te red – in die geval is dit net mense wat jare se seer saam met hulle te dra. Ek het al baie self-help boeke op die winkelrakke sien staan en gelees. Wat vir my egter opvallend is, is die behoefte aan boeke wat ons leer hoe om ons medemens te help.

Hoe kan ons mense ondersteun as ons nie weet hoe om uit te reik nie? As iemand wat self met ‘n beseerde vlerk gesit het, weet ek die meeste afvlerkvoëltjies het ‘n behoefte om gehoor te word. Die uitdaging lê dus nie in ons vlerke nie, maar eerder in ons stem. In plaas daarvan om te luister met die doel om te reageer op wat ons hoor, moet ons dalk probeer om te luister met die doel om te verstaan wat ons hoor. As ons almal beter verstaan, sal dit makliker wees om met begrip te reageer. Soms hoef jy nie eers terug te praat nie en is jou teenwoordigheid genoeg, want jou teenwoordigheid verseker die afvlerkvoëltjies dat hulle nie alleen is nie – ongeag of jou eie vlerke stukkend is of nie.

Helpende Hand is hier om jou te vang. Ek weet dit, want ek het ook al uit die boom geval. Reik uit na jou medemens en luister om te verstaan. As ons almal net ‘n bietjie meer begrip toon, is die moontlikheid groot dat ons dalk net nuwe hoogtes kan bereik.

Hilde

Helpende Hand