Liewe Leser
Brief 15
Liewe Moeder
Vandag skryf ek ‘n brief met die hoop dat die regte woorde my pen sal bereik nog voordat die ink in ‘n handgemaakte kaartjie insink. Ek moet bieg: Sonder Ma se hulp is dit moeilik om te verduidelik wat ek eintlik wil sê.
Miskien sê ek dit nie genoeg nie en miskien waardeer ek dit nie soos wat ek moet nie, maar om ‘n moeder te hê wat altyd daar was, selfs in die tye toe my woorde onvanpas was, is ‘n voorreg wat my soms woordeloos laat. Om nege maande veilig in Ma se skoot te gelê het en die wêreld in te kom met die wete dat Ma my onvoorwaardelik sal liefhê…
In my grootwordjare het ek baie harte gesien, maar Ma se hart het ek eerste leer ken – sagter as kaneel, fyner as porselein en sterker as ‘n koppie tee. Ma het al baie vir my opgeoffer – miskien ‘n bietjie meer as wat ek dink.
Liewe Moeder, ek het ook die voorreg gehad om baie by Mamma te leer. Om iets te gee sonder om iets terug te verwag en om alles met grasie te ontvang. Om jou naaste soos jouself lief te hê, en om mense te vergewe sonder om die laaste sê te sê.
Ek is jammer, Mamma, oor al die aande toe Ma dood van bekommernis was en oor die trane wat Ma met elke snesie moes wegvee. Dankie vir al die geleenthede wat Ma vir my wou gee. Ek het woorde gebruik, sonder dat ek tweekeer gedink het. Hoe nat was Ma se kopkussing nie van die seer wat daarin ingesink het…
Mamma het my soms gelos en in die diepkant gegooi. “Jy moet leer swem, my kind. Soms is dit nodig om jou eie voete te vind.” Min het ek geweet dat Mamma my steeds teen die wêreld wou beskerm en bereid was om elke hou vir my te vat. Ja, Mamma, ek het Ma se liefde onderskat.
Deur al die jare het Ma my gedra, maar wie het Ma gedra? My woorde is neergepen. Ek ken Ma se liefde, maar dis God wat Mamma se hart die beste ken. Hy het geweet dat ek Ma sou nodig hê.
Mamma, ek het jou lief. Met ‘n dankbare hart sluit ek my brief. Ek sal dit versigtig met ’n satynlint vasbind en dit seël met ‘n gebed: Liewe Heer, ek het al baie droog gemaak, maar dankie vir ‘n ma wat my steeds onvoorwaardelik lief het.
Hilde
Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5