Liewe Leser
Brief 30
Dis geen geheim dat beurtkrag deel van die nuwe normaal geword het nie. Wanneer een lig aan gaan, is die kanse goed dat iemand anders se lig met opset afgeskakel is – selfs al betaal jy die astronomiese kragrekening aan die einde van die maand. Ek weet. Dit frustreer my ook.
Een van die herinneringe wat my ouers graag met my deel, is van die aande wat hulle in die dorp moes rondry sodat ek as baba kon ophou huil. Hulle het my in die karstoeltjie vasgemaak, die donker ingevaar en liedjies gesing. Die straatligte wat by ons verbysweef en hulle gesing het my uiteindelik aan die slaap gesus.
In my kinderdae was ek egter, soos baie kinders, ook relatief bang vir die donker. Miskien was ons bang omdat ons verbeelding so sterk was. Ek wou die monsters in die donker so ver as moontlik vermy, daarom het ek seker gemaak dat elke lig in ons huis aan is wanneer ek iets in my kamer wou gaan haal.
Nou, ’n hele paar jaar later, is my gemoed nog steeds afhanklik van lig en musiek wanneer dit swaar gaan. Ironies genoeg kan alles om my, en baie ander mense, steeds donker voel, selfs al skyn die son. En die monsters wat ons pla, is gewoonlik die monsters wat gratis blyplek in ons gedagtes het.
Hoe swaarder ons gemoed, hoe donkerder word dit. Uit ervaring weet ek dat dit nie so maklik is om weer die lig raak te sien nie – veral nie as die lig van jou ontneem is nie. Wat ek wel agtergekom het, is dat ons geneig is om op die stad se kunsmatige lig staat te maak, maar die sterre se lig onderskat wanneer die kunsmatige lig afwesig is.
Miskien moet ons ’n slag elders na ligbronne soek, eerder as om die dinge waaraan ons gewoond is en wat ons lewens vergemaklik na te jaag. Selfs al sit ons in ’n verbrokkelende land, met min lig en ’n swaar gemoed, kan ons steeds kies of ons wil bou of nie. As ons kies om mekaar op te bou, mag ons dalk net ’n ligpunt in iemand anders se lewe wees en is die kanse goed dat ons hulle donker vir ’n rukkie kan uitwis.
Hilde
Helpende Hand