Liewe Leser

Brief 31

In my kinderdae het ek gereeld wegkruipertjie in die tuin gespeel: Sorgeloos, kaalvoet en vol adrenalien. Wanneer dit my beurt was om weg te kruip, het ek myself klein gemaak, geduldig gewag en gereed gestaan om te hardloop as iemand my sou vind. Dit is duidelik dat ek in vergelyking met ander kinders goeie kinderdae gehad het en dat ’n speletjie soos wegkruipertjie vir my net ’n kinderspeletjie was, nie ’n oorlewingstegniek nie.

Vandag speel ek wegkruipertjie ’n bietjie anders. Ek is geneig om myself van die res van die wêreld te isoleer, mure te bou en stil te wees wanneer dit moeilik gaan. Vir ’n rukkie voel ’n mens veilig en word die eensaamheid jou vriend, maar saam met die gemak kom ongemak en mettertyd word dit moeilik om na die realiteit terug te keer en die monsters in die oë te staar.

Uit ervaring moes ek leer dat dit belangrik is om veilig te voel, maar dat dit ook nodig is om mense in jou lewe te hê en hulle toe te laat om jou te help wanneer jy struikel. Mense is om ’n rede op ons pad gestuur. Jy hoef nie alles altyd self te doen nie. Selfs al voel jy stoksielalleen, het jy steeds mense in jou hoek wat hul hande na jou sal uitreik en uit hul pad sal gaan om jou uit die donker te help.

Hilde

Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5