Liewe Leser
Brief 4
#LieweLeser
In my kinderdae was ek ’n nuuskierige kleinkind met ’n groot lus vir die lewe. Ek het baie vrae gehad, altyd kaalvoet geloop en dikwels kanse gewaag. My ouma het dit geweet en die lewe vir my interessant gehou. Soms het sy lekkertjies in ’n skoon snesie toegedraai, onder my kopkussing gebêre en my laat glo dat ’n feetjie vanuit die tuin ’n besoek kom aflê het. Ek het baie oor die feetjie gewonder. Oor my oupa ook.
In my tienerjare het ek ’n metaalblik met briewe in my ouma se klerekas ontdek. Sonder om haar privaatheid te skend, het ek haar daaroor uitgevra. Ons het saam op die bed gesit en ek het die briewe voor haar oopgemaak. Elke brief is veilig in sy regmatige koevert bewaar. My ouma se naam is op elke koevert geskryf in ink wat deur die jare soos ou foto’s bruin geword het. Omdat ek my oupa vroeg in my lewe aan die dood moes afstaan, het hierdie briewe my gehelp om ’n familielid uit ’n pen te leer ken.
Dit laat my dink aan die impak wat woorde op ons kan hê en dat ons nie die krag van ’n pen moet onderskat nie. Woorde kan heelmaak en dit kan ’n verskil maak. Dit kan afbreek en dit kan bou. Woorde kan stories vertel en drome deel. Woorde kan ook uitnooi en mense bymekaarbring. Selfs die belangrikste Boek word dan soms die Woord genoem.
Deur my digitale pen leer ons vir Helpende Hand ook ken. Ons weet die gemeenskapsorganisasie wil Afrikaner-armoede verlig, voorkom en verbreek. Ons weet ook dat dit oor baie meer as net kospakkies gaan en dat gemeenskapsontwikkeling die sleutel tot die Afrikaner-kultuurgemeenskap se vryheid, veiligheid en voorspoed is. Wanneer laas het jy sorgvry gevoel, liewe Leser? En hoe dikwels ervaar jy die vrede waarna ons almal verlang?
Net soos my oupa se briewe bêre ek ons briewe veilig in die posbus. Vandag gee ek vir jou die sleutel: Dis my hand in jou hand.
Hilde
Helpende Hand