Liewe Leser

Brief 7

Daar is iets omtrent Sondagmiddae wat vir my uitstaan. ’n Sondag voel vir my amper soos wanneer jy lank in die son lê en lomerig wag vir die oorgang tussen die week wat was en die week wat kom. ’n Vreedsame dag. Dis ook die dae waaroor ek nostalgies raak en wat ek graag saam met my Hemel toe wil vat.

Vandag dink ek aan een dag wat nog vars in my geheue ingeprent is. Die herinnering neem my na my ouerhuis se kombuis. My gemoed was buitengewoon laag en my pa het dit geweet. Vroegoggend staan ek en hy en wag vir die ketel om te kook. Hy het die vorige dag beskuit gebak en ons gaan dit saam met ’n koppie boeretroos op die proef stel.

Die klik van die ketel onderbreek ons ligte gesprek. My pa roer kondensmelk in sy koffie. Ek drink my koffie swart en bitter. Die aroma van boeretroos hang in die lug en my pa oorhandig die varsgebakte beskuit aan my. Dit voel amper magies, asof ons in ’n goue herinnering gaan intree en die dag vir ewig in ons hartskamers gaan bêre.

My pa hou die beskuit hoog in die lug op. “Wat gaan ons vandag vier?” vra hy optimisties.


“Ek weet nie,” antwoord ek onseker.
“Kom ons vier die goeie ou dae … Soos vandag!”

Opeens het die bitter koffie soeter geproe en was dit een van die lekkerste stukkies beskuit wat ek nog geëet het. Vandag klou ek aan dié herinnering en verlig dit my donkerste dae. Wat ons dikwels vergeet, is dat dit baie voorbereiding en harde werk geverg het om ’n stukkie beskuit saam te geniet. So werk die lewe ook.

Om hande te vat en saam te werk om Afrikaner-armoede te verlig, voorkom en verbreek. As daar een ding is wat ons almal by my pa kan leer is dat ons nie vandag se potensiaal moet onderskat nie en vandag deel van ons goeie ou dae moet maak – ongeag hoe bitter die koffie mag wees.


Hilde
Helpende Hand