Liewe Leser
Brief 8
Vandag stuur ek vir jou ’n poskaart uit die verlede. Miskien vat dit jou terug na ’n tydperk wat vir jou volksvreemd mag wees: ’n plek sonder teerpaaie, elektrisiteit of krane. Eintlik ken jy die plek baie goed; dalk herinner die brief jou net aan iets wat jy van die Afrikaner-gemeenskap vergeet het.
Ons het huise gebou en vloere met beesmis gesmeer. Ons het osse voor waens en perde voor kapkarre gespan en ons eie spore gelos. Ons het sade geplant en geveg teen dit wat ons vrede kos. Ons het hoedens en kappies gedra. Ons roers was byderhand, sonder enige vrae. Soms het ons droogtes verduur en soms was dit moeilik om ons buskruit droog te hou. Ons het drade gespan en ons kampe beman. Ons het tuingemaak en vir goeie seisoene gebid. Ons het boekegevat en saam met God in die veld gesit.
Ons het ook ons trots gehad en op integriteit en lojaliteit staatgemaak. Miskien het ons te gemaklik geraak en vergeet hoe dit voel iets uit niks te maak. Om water te gaan haal en kerse spaarsamig te gebruik. Om op somersdae op die stoep te sit en perskes te skil vir perskekonfyt. Om brood te bak en om vleis in vet in te lê. Miskien het ons vergeet om onafhanklik te leef, maar ook afhanklik van mekaar te wees. Vandag is ons versigtig om ons sê te sê.
Ja, liewe Leser, ons het ook ons oorloë gehad, vrouens en kinders wat in kampe gesterf het en Boere wat hul name in die geskiedenis ingekerf het. Datums is neergepen met ink wat in papier wegsink. Monumente is opgerig en hoopdruppels het in grond ingesink.
Miskien is dit vandag se uitdagings wat maak dat ons terugkeer na dit wat ons voorouers gehad het: grondpaaie wat beter as teerpaaie lyk en braaivleisvure in plaas van elektrisiteit. Ons kies ons roetes selektief, want die sente in ons beursie drup-drup deur die brandstofpyp. Ons spaar water en vat die hande wat ons naastes na ons toe uitreik.
Ons sukkel, daarom help ons. Ons reik uit, want ons is afhanklik van mekaar. Ons vat hande wanneer ons bid, want ons weet ons God is daar. As een val, val ons saam, maar op ons knieë. Dis wie ons is. Ons hét al gewen en ons sal weer.
Hilde
Helpende Hand