#LieweLeser
Brief 66
Ek het onlangs ’n kort video gesien met ’n boodskap wat my nou bybly. In die videogreep vertel ’n jong vrou vir ’n ouerige man dat sy uit haar plek voel. Sy verduidelik dat sy amper 30 jaar oud is en gedink het dat sy teen dié tyd alles agtermekaar sou hê, maar dis tevergeefs … Sy is ongetroud, het nie kinders van haar eie nie en weet nog steeds nie presies wat sy met haar lewe wil maak nie. Sy som haar ongemaklike situasie in drie woorde op: “Ek voel verlore.”
Die ouerige man gee toe vir haar baie goeie advies – advies wat ek dink ons almal goed kan gebruik. Hy verduidelik dat ons dit kan bekostig om ons tyd met sekere dinge te neem, maar dat ons dit nie kan bekostig om ons tyd te mors nie. “Goeie dinge neem tyd,” sluit hy af.
Ongeag hoe oud ons is, dink ek dis normaal om soms verlore en uit ons plek te voel. Dit beteken nie dat jy agter met jou lewe is nie; dit beteken net dat goeie dinge tyd neem en dat ons in die ongemaklike proses geduldig moet wees. In Psalm 119:176 staan daar: “Ek het gedwaal soos ‘n verlore skaap; soek u kneg, want u gebooie vergeet ek nie.” Hoe mooi is dit nie om te weet dat die ongemak net tydelik is en dat die verlore-gevoel jou dalk net op die regte pad gesit het nie?
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5
