#LieweLeser

Brief 68

Ek het grootgeword in ’n huis waar beide my oumas en my ma gereeld resepte neergepen of uitgeknip en versamel het. In ons huis dra die boekrakke swaar aan die Kook en Geniet- boeke, handgeskrewe resepteboeke en kooktydskrifte. Deur die jare het resepte heelwat vrouens al bymekaargebring en verhoudings versterk. Ons proe die familiegeheime by kerkbasaars, troues, verjaardae, en ja, liewe Leser, selfs in die subtiele poging om ons skoonma’s te beïndruk. Soms gebruik ons ons resepte om vertroosting te bring deur voorbereide aandetes vir ons bure te gee en te wys dat ons met hulle simpatiseer. Dis ’n vrou se manier om die lewe ’n klein bietjie ligter te maak as wat dit is en seker te maak dat die gemeenskap se gemoed ’n bietjie sterker is. Dis egter geen geheim dat hierdie manier van ondersteuning ‘n grondslag van liefde, begrip en wysheid het, wat van geslag tot geslag oorgedra word, nie. 

Die invloed van ma’s, oumas, en susters speel ‘n belangrike rol in jong meisies se identiteit. Van kindsbeen af leer ons meisies die uitdagings en vreugde van vrouwees. Alhoewel ons nie baie daaroor praat nie, bloot omdat dit ’n persoonlike en ongemaklike onderwerp is, sal ek vir die eerste keer daaroor skryf.

Dieselfde beginsel wat ons ons resepte met ander vroue laat deel, geld ook vir die deel van sanitêre produkte. Dis asof daar ’n ongeskrywe reël is dat vroue vroue in nood moet bystaan wanneer hul nie sanitêre produkte tot hul beskikking het nie – nie omdat etiket dit van ons vereisnie, maar juis omdat ons weet wat dit behels om ‘n vrou te wees.

Meer as 1 000 skoolgaande meisies se lewens kom elke maand vir vyf dae tot stilstand omdat hul huishoudings nie sanitêre ware kan bekostig nie. Dis 52 skooldae per jaar. En dis waar HelpHetta ingryp. Solidariteit Helpende Hand se HelpHetta-projek versprei sanitêre ware en ander noodsaaklike higiëniese produkte kwartaallikse onder hierdie meisies.

As ons die resep van liefde en begrip kan volg om sanitêre ware in te samel en onder ons meisies te verdeel, is die kanse goed dat dié wat dit nie kan bekostig nie die vernedering gespaar sal word, dat hulle hul waardigheid sal behou en dat hul elke dag skool-, buitemuurse- en sosiale aktiwiteite sal kan bywoon.

Ons meisies hoort in die skool.

Wat dink jy, liewe Leser?

Gaan jy hierdie resep volg?

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

Ondersteun ons meisies hier : https://helpendehand.co.za/helphetta-donasie/