#LieweLeser

Brief 70

Ek het in my lewe al ’n hele paar sterk en merkwaardige vroue ontmoet. Een vrou wat ’n groot invloed op my lewe gehad het en aan wie ek nou nog dink, is tannie Nora, ’n vurige dame wat enige plek sal regruk en nie skroom om jou op jou plek te sit nie. Ek sal jok as ek sê dat ek nie ’n bietjie bang vir haar was nie.

Ek het vir Tannie Nora in haar kombuis leer ken en gou agtergekom dat sy sit met ’n moederhart wat geroep is om haar medemens te versorg, sit, dis waarom sy op die oog af so kwaai was, want sy wou beskerm. In haar kombuis het die kospotte aanhou prut en was haar ketel nooit moeg gekook nie. Haar kombuis was haar veilige hawe en almal wat moeg was, kon daar sit en herlaai terwyl sy gekook het.

Die lewe is dikwels onregverdig. In Tannie Nora se geval is sy gediagnoseer met kanker. Sy het al kanker gehad … en dit boonop oorwin ook. Hierdie was die tweede en laaste keer. Sy het kanker tot op die been geken en ondanks haar pyn steeds gesorg dat haar huis netjies bly en die kombuis ’n veilige hawe vir haar mense was. Sy het nooit gekla nie, selfs al het sy goeie rede gehad om te kla. Op haar moeilikste dae het sy gevra hoe dit met jou gaan … Dit was ’n swaar tyd vir almal wat haar geken het, want hoe help jy die mens wat jou altyd gehelp het? Ek kan nie vir almal praat nie, maar my persoonlike ervaring was dat ek ’n ander soort seer gesien, gevoel en gehoor het. Ek het haar net een keer sien lê; drie dae voor haar laaste dag. Vandag rus sy sag, maar haar plekkie bly leeg – selfs al het die jare verbygegaan.

Vrouedag is om die draai … Wat ’n voorreg is dit nie om sterk vroue te ken nie. Die dapper vroue wat kaalvoet oor elke uitdaging loop en kans sien om met ’n sagte hart in ’n harde wêreld te leef. Dís die hande wat uitdagings vasvat, geleenthede raakvat en oplossings saamvat. Die vroue wat versorg en besorg. ‘n Ma, ‘n ouma, ‘n suster en ‘n vriendin. Ons is meer as net vrouens. Wanneer een val, val ons saam, maar op ons knieë. Ons is asters. Óns het al gewen en ons sal weer.

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5