#LieweLeser

Ek het ‘n rukkie terug ou CD’s in my kas ontdek en deur elke CD se lirieke-boekie geblaai.

Dit het my laat terugdink aan die dae toe ons tyd afgestaan het om die lirieke van ‘n nuwe CD woord vir woord te leer terwyl die CD in die CD-speler gedraai het. Dié leerproses was opsig self ‘n manier om jou los te maak van die wêreld sodat jy die musiek op daardie oomblik kan waardeer en probeer uitpluis wat dit vir jou in daardie seisoen beteken. Iewers tydens die leerproses is daar ‘n oomblik wat die kunstenaar se lirieke begin vassteek en jy maar net te dankbaar is dat daar ‘n vreemdeling is wat jou gevoelens baie goed kan verwoord en in ‘n liedjie opsom. Noudat ek daaraan dink, was dit nie nét ‘n leerproses nie, maar ‘n opregte waardering vir die kunste.

Tussen die lewe se gejaag deur het ek al baie keer vir ‘n kort oomblik na die goeie ou dae verlang. Soms voel ek spyt oor die keuses wat ek gemaak het en wens ek dat dit moontlik is om die tyd terug te draai sodat ek kan regmaak wat ek verbrou het. Dis normaal om so te dink en voel en terug te verlang na die dae wat vir jou geleen was.

Ek troos myself aan die wete dat ons eendag na vandag ook gaan verlang en dat tyd vir niemand wag nie, daarom is dit belangrik om vorentoe te kyk en opnuut te waardeer wat jy op die oomblik het.

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5