#LieweLeser

Ek het hierdie jaar die voorreg gehad om saam met ’n hele paar buitelanders te kuier wat vir ’n kort rukkie ‘n besoek in hulle geboorteland afgelê het. Dié vriende woon nou in Nederland en Engeland. Ek ken hulle al lank – van hulle lewenslank. Hoe langer jy iemand ken, hoe moeiliker word dit om afskeid te neem. Want saam met afskeid kom verandering en saam met verandering kom aanpassing. Dis wat dit soms so moeilik maak: die absolute sekerheid dat iemand afwesig gaan wees in ’n seisoen wat ’n klomp onsekerhede vir ons inhou … Maar só werk die lewe.

Een gesprek bly my nou nog by. ’n Vriend het tydens Afrika se goue uur vir my gevra: “Waarom bly jy as al jou mense gaan?”

My teenvraag aan hom was: “Waarom gaan jy as al jou mense hier is?”

Dié vriend ken my nou al goed genoeg om te weet dat dit ‘n retoriese vraag was. Hy het ‘n halwe glimlag gegee en my glasie geklink terwyl ons woordeloos en vreedsaam die sonsondergang in stilte ingedrink het. Die doel van my vraag was nie noodwendig om vas te stel waarom mense kom en gaan nie, maar eerder om daarop te wys dat beide vrae baie moeilik is om te antwoord ongeag of jy kies om te bly of gly. Ons elkeen stap ons eie pad en elke besluit wat ons neem hou gevolge in.

Wanneer ek ’n posduif vir my vriende in die buiteland, stuur vra ek nooit wanneer hulle weer vir ons kom kuier of  dat hulle asseblief moet terugkom nie. Ek vra eerder: “Hoe gaan dit met jou?” en “Is jy oukei?” Interessant genoeg het ek ook nog nooit ’n boodskap terug ontvang wat lui dat my mense nooit weer sal wil terug kom nie, maar eerder dat hulle na Suid-Afrika verlang en lanklaas gebraai het …

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5