Liggies van hoop in donker tye

Honderd behoeftige leerders in die Pretoria-omgewing het ’n ligpunt in hulle moeilike bestaan gekry toe Solidariteit Helpende Hand se Gauteng-Noord streek aan hulle ’n LED liggies wat met sonkrag werk, geskenk het.

Vir die meeste leerders is dit so eenvoudig soos om ʼn skakelaar te druk om die lig saans aan te skakel wanneer huiswerk of skooltake gedoen moet word, of wanneer daar voorbereiding vir die eksamen gedoen moet word. ʼn Paar jaar gelede toe beurtkrag ingestel is, was daar egter ʼn groot frustrasie onder leerders wanneer huiswerk by kerslig gedoen moes word.

Volgens Mariana Kriel, streeksorganiseerder in Gauteng-Noord, is die realiteit dat daar letterlik duisende leerders is wat in informele nedersettings of gehuggies agter in iemand se erf woon, wat elke aand moet sukkel om die nodige lig te kry om hul huiswerk te voltooi. “Baie van die behoeftige persone verloor ook jaarliks al hul besittings as gevolg van brande wat uitbreek omdat mense vergeet om die kerse dood te maak of omdat dit omgewaai word,” sê Kriel.

“Om dié rede het Solidariteit Helpende Hand ’n Liggie-projek bekendgestel, waar die leerders nou voorsien word van ’n LED liggie wat met sonkrag werk en wat helder genoeg skyn sodat huiswerk met gemak en veilig gedoen kan word. Die eerste 100 liggies is deur ’n welbekende eiendomsgroep in Centurion aan behoeftige leerders geskenk.

“Met die publiek se inkoop in die projek is ons seker dat die tekort aan lig nie die leerders se skoolprestasies negatief sal beïnvloed nie.”

Om betrokke te raak by die projek kan jy Mariana Kriel skakel op 084 952 5837 of jy kan ʼn e-pos aan haar rig by [email protected].