Na meer as twee maande in die hospitaal, is Lise Brink uiteindelik tuis. Volgens haar mediese versorgers is Brink in ʼn goeie fisiese toestand, selfs al is daar ʼn lang pad van rehabilitasie wat voorlê.

Brink was op 16 Desember 2016 saam met haar man, dr Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, en hul vyf kinders in ʼn tragiese ongeluk net buite Theunissen. Twee van die egpaar se kinders, Rachel en Andre, is oorlede in die ongeluk, terwyl Lise vir ʼn geruime tyd in ʼn kritiese toestand was.

Lise se been is ook op 21 Desember 2017 bokant die knie geamputeer.

Volgens Ernst Vorster, hoof van kommunikasie vir Helpende Hand, het die feit dat die been bo die knie geamputeer is bepaalde implikasies: “Behalwe vir die feit dat dat dit die been se funksie toekomstig met moeitevolle rehabilitasie herstel sal moet word, beïnvloed dit ook die kostes van die prostese. Volgens haar mediese span is die kostes van Lise se prostese aansienlik meer oor hierdie rede. Die funksies van die prostese is ook meer ingewikkeld en beloop die kostes ongeveer R480,000.”

Saam met die prostese, wat slegs gedeeltelik deur die Brinks se mediese fonds betaal word, het die hegstukke en die terapie wat daarmee saamgaan verdere koste implikasies. Volgens Danie is die feit dat sy vrou uit die hospitaal ontslaan is, ʼn reuse-mylpaal. Hy en sy gesin is baie dankbaar daarvoor. “Danie en Lise is baie dankbaar vir die ondersteuning wat hulle uit die publiek ontvang. Hulle het ook ’n spesiale dankie aan die media gerig wat oor hul tragedie berig het en die publiek op hoogte gehou het.” het Vorster gesê.

Om te help om fondse vir die prostese in te samel, het vriende van die gesin en kollegas uit die Solidariteit Beweging besluit om die Hardloop vir Lise-veldtog te begin. Verskeie atlete en lede van die publiek gaan aan de Sunrise Monster op  4 Maart om geld in te samel vir Lise.

Vorster het bevestig dat die Brinks nou fokus op Lise se herstelproses en dat die gesin realistiese verwagtinge koester rondom Lise se herstel: “Die gesin waardeer die ondersteuning wat die publiek en die media bied, maar ons moet ook begrip hê vir die Brink-gesin se behoefte om in privaatheid te rou oor hulle tragiese verlies en hulle die tyd gun om saam deur die die trauma wat hulle opgedoen het te werk.”

Lede van die publiek wat die Hardloop vir Lise veldtog vir ondersteun kan op www.hardloopvirlise.co.za meer inligting verkry, of die QR-kode skandeer.