Mediaverklaring: Blou Bul rugbyspelers sit handjie by met Helpende Hand WinterVita-projek

Solidariteit Helpende Hand
27 Maart 2014

WinterVita2_sBlou Bul rugbyspelers, Hencus van Wyk en Louis Fouché, het vandag (27 Maart) ʼn handjie bygesit om Solidariteit Helpende Hand Gauteng-Noord se WinterVita-projek te loods.

Volgens Mariana Kriel, Helpende Hand se streeksorganiseerder in Gauteng-Noord, neem afwesighede by skole en sterftes by ouer persone toe gedurende die wintermaande, en daarom gaan die streek hierdie jaar ʼn oorlog voer teen wintersiektes. “Met WinterVita wil Helpende Hand vitamiene aan behoeftige lede van die gemeenskap, soos behoeftige kinders en weerlose bejaardes, beskikbaar stel,” sê sy.

Van Wyk sê dat hy die WinterVita-projek ondersteun omdat hy die waarde van goeie gesondheid besef. “Goeie gesondheid is baie belangrik en veral kinders moet die regte vitamiene inneem om hul immuunstelsel te versterk, sodat hulle ‘n gesonde leefstyl kan handhaaf,” sê hy. “Ons moet onthou die kinders van vandag is ons opkomende Blou Bulletjies!”

Marlene Viljoen van Mikvah Projects, wat 2000 vitamienpille vir kinders en 6000 vitamienpille vir volwassenes aan die projek geskenk het, sê dat kinders en bejaarders die organisasie na aan die hart lê. “Dit bly ons plig om na ander se behoeftes om te sien. Ons help dié wat nie hulself kan help nie,” sê sy.

Die vitamiene gaan aan behoeftige kinders en bejaardes by kleuterskole en ouetehuise in Pretoria geskenk word.

“Dit is altyd lekker om deel te wees van die groter prentjie,” sê Fouché. “Helpende Hand verbeter bejaardes en kinders se lewens met behulp van Mikvah Projects.”

Die gemeenskap word ook versoek om die projek te ondersteun deur vitamiene te skenk of ʼn finansiële bydrae te maak. Kontak gerus vir Mariana Kriel by 084 952 5837 of [email protected] vir meer inligting.

Mediaskakelbeampte:
Mariné Jacobs
Solidariteit Helpende Hand
Tel.: 012 644 4390
Sel: 072 480 4904
E-pos: [email protected]