Skip to content

Mediaverklaring: Boerboktelersvereniging belê in wenner van Helpende Hand Entrepreneurskompetisie

Solidariteit Helpende Hand

4 Februarie 2014

Eddie 1Eddie Pienaar, die wenner van Solidariteit Helpende Hand se Entrepreneurskompetisie 2013, het vandag ʼn reuse skenking van tien stoetooie en ʼn stoetram van die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging ontvang.

 Eddie Pienaar is verlede jaar aangewys as die wenner van Helpende Hand se eerste Entrepreneurskompetisie en het met prysgeld van R15 000 weggestap. Die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging het egter van Eddie se suksesvolle boerdery te hore gekom en was sό beïndruk, dat hulle besluit het om hierdie reuse skenking aan hom te oorhandig.

Die kudde is tydens die jaarlikse Bloem Skou by die vereniging se nasionale raadsvergadering aan Eddie oorhandig. Eddie het ook ʼn gratis lidmaatskap ter waarde van R1200 per jaar ontvang, wat beteken dat hy tans die nuutste en jongste lid van die vereniging is.

Stephanus Malan, president van die vereniging, vertel dat hy toevallig Eddie se storie op televisie raakgesien het. “Dit was vir my ʼn riem onder die hart om te sien hoe passievol hy oor die boerbok en sy boerdery is,” sê hy. “Ons belê in die passievolle boer en hoop dat dit ander jong boere motiveer om ook met boerbokke te boer. Sy entoesiasme wil ons aanspoor om voort te leef. Dalk is Eddie oor ʼn paar jaar die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging.”

Malan sê die wengeld wat Eddie verlede jaar by Helpende Hand ontvang het, kan nou vir ander doeleindes gebruik word soos om voerbakke en drade te koop en sy boerdery in stand te hou. Hy sê dat die skenking wat die vereniging vandag aan Eddie oorhandig het, ongeveer R80 000 werd is. Eddie sê hy beplan om sy prysgeld van verlede jaar te spaar en in die winter vir sy boerbokke voer te koop.

Eddie Pienaar is tans ʼn graad 8-leerling aan Hoërskool Wonderfontein in Carletonville en boer met boerbokke sedert hy vyf jaar oud is. Hy het reeds ‘n sterk kudde van ongeveer 100 boerbokke en sê hy verkoop sy boerbokke vir tussen R1600 en R2000. “Ek hou baie van boerbokke. Hulle is gehard en verkoop vinniger as skape,” vertel dié jong boer. Hy sê dat hy beplan om baie veilings by te woon hierdie jaar en is innig dankbaar vir die Boerboktelersvereniging se skenking.

Die Solidariteit Helpende Hand Entrepreneurskompetisie word vanjaar weer aangebied vir leerlinge van graad 8 tot graad 12. Registrasie open op 19 Februarie en deelname is gratis. Leerlinge kan aanlyn inskryf by www.loopbaan.co.za.  Die wenner sal wegstap met ʼn kontantprys van R15 000, asook R15 000 vir sy of haar skool.

 

Mediaskakelbeampte:

Mariné Jacobs

Solidariteit Helpende Hand

Tel.: 012 644 4390

Sel: 072 480 4904

E-pos: [email protected]