Mediaverklaring: Carletonville skool wend Helpende Hand prysgeld aan vir entrepreneursontwikkeling

Solidariteit Helpende Hand
18 Maart 2014

Nadat Eddie Pienaar verlede jaar as die wenner van Solidariteit Helpende Hand se Entrepreneurskompetisie weggestap het, kan sy skool ook nou hul prysgeld gebruik om entrepreneuriese vaardighede onder hul leerlinge te bevorder.

Eddie se boerbokboerdery het verlede jaar R15 000 prysgeld vir homself en R15 000 prysgeld vir sy skool besorg. Laerskool Dagbreek in Carletonville het besluit om die prysgeld aan te wend om ʼn entrepreneursterrein te skep.

Adjunk-hoof van Laerskool Dagbreek, Steve Moscos, vertel dat die skool se entrepreneursdag tans op die skool se stoepe gehou word wat enkele probleme skep. “Hierdie sementblad gaan ons oprig weg van die ander geboue waar daar genoeg skaduwee vir die kinders sal wees. Daar is ook krag by die beoogde terrein wat leerders se entrepreneursdag sal vergemaklik,” sê hy.

“Entrepreneursopleiding is deel van die graad 7 kurrikulum en al die graad 7 leerders moet dié gegewe dag hul [entrepreneursprodukte] uitstal voor die hele skool. Personeel doen die beoordeling tydens verkope ten opsigte van oorspronklikheid, netheid, vriendelikheid, ens. Ons glo hier gaan nog baie mooi dinge in die toekoms hier uitkom,” sê Moscos.

Die Helpende Hand Entrepreneurskompetisie het vanjaar weer op 17 Februarie vir graad 6 tot 12-leerlinge geopen. Deur hierdie kompetisie poog Helpende Hand om die probleem van werkloosheid onder die jeug aan te spreek deur hulle vroegtydig met entrepreneursvaardighede te bemagtig.

Die kompetisie word vanjaar vir ʼn tweede keer aangebied en die totale prysgeld beloop R60 000. “Verlede jaar was die kompetisie ʼn reuse sukses en dit het ons aangespoor om dit vanjaar selfs op groter skaal aan te pak,” sê Karin Venter, ʼn Helpende Hand projekorganiseerder. “Die wenner sal weer wegstap met R15 000 om in sy of haar beplande besigheid te belê, asook R15 000 vir sy of haar skool wat hulle kan aanwend vir entrepreneursontwikkeling.”

Leerlinge kan inskryf op www.loopbaan.co.za. Die sluitingsdatum vir die inhandiging van besigheidsidees is 2 Mei 2014 en deelname is gratis.

Vir enige navrae kan Karin Venter by [email protected] gekontak word.

 

Mediaskakelbeampte:
Mariné Jacobs
Solidariteit Helpende Hand
Tel.: 012 644 4390
Sel: 072 480 4904
E-pos: [email protected]