Mediaverklaring: Helpende Hand bederf 100 oumas met spesiale vertoning van Vrou soek ʼn Boer

Solidariteit Helpende Hand 

HH_foto2Solidariteit Helpende Hand hoofkantoor het vanoggend  in samewerking met Time Media Films (TMF) 100 oumas bederf met ʼn spesiale vertoning van die nuwe Afrikaanse rolprent, Vrou soek ’n Boer, by Centurion Mall.

Die oumas is verwelkom met ‘n rooi tapyt en het heerlik saam met een van die film se aktrises, Magda Beukes, gekuier. Die Flooze, ambassadeur van Helpende Hand se Ouma en Oupa projek, was ook daar om die dag saam met die oumas te geniet. Mugg & Bean het heerlike koffie en kolwyntjies aan die gaste gegee en Colour Me Green het die dekor verskaf.

Volgens Beukes was die dag vir haar baie spesiaal, omdat sy kon sien hoe iemand vir bejaardes omgee. “Ek gaan ook eendag ouer word – ons almal gaan. Helpende Hand is vir ons ʼn voorbeeld. Sonder ons oumense sou ons nie vandag hier gewees het nie,” sê sy. “Dit is noodsaaklik om vir hulle lewensvreugde te gee, omdat hulle al geliefdes verloor het en [swak gesondheid] en ouderdom hulle soms onderkry.”

Die Flooze, oftewel Sorina Erasmus, het Beukes se woorde beaam en gesê dat die gemeenskap altyd moet tyd maak vir bejaardes. “Hulle bly spesiaal.”

Een van die oumas wat saam gefliek het, Alet Boshoff, was skoon oorweldig deur die geleentheid. “Dit is my eerste dag alleen uit in ʼn baie lank tyd. Ek is baie opgewonde oor die dag en sien al lank uit om dit saam met my vriendinne te geniet,” het sy gesê. ʼn Ander ouma, Phia Venter, het veral die aantreklike Nico Panagio se verskyning in die rolprent geniet. “Mooi bly maar mooi,” het sy glimlaggend gesê.

Michelle Burger, Helpende Hand se organiseerder van die Ouma en Oupa projek, sê dat die oggend baie goed afgeloop het. “Die oumas het dit so baie geniet en het so spesiaal gevoel, dat ʼn paar trane sommer hier en daar gevloei het. Dit is wonderlik om hierdie mense wat soms deur die samelewing vergeet word, te kan bederf.”

Helpende Hand sal die res van die jaar saam met Ster-Kinekor werk sodat elke Helpende Hand streek minstens 20 oumas kan neem om Vrou soek ’n Boer by ʼn Ster-Kinekor-teater in hul streek te gaan kyk. So word hierdie inisiatief ook op ʼn nasionale vlak aangebied.

Helpende Hand loods ook ʼn opwindende kompetisie vir die publiek in samewerking met Ster-Kinekor en Vrou soek ’n Boer. Lede van die publiek word uitgedaag om hul eie oumas of ʼn behoeftige ouma in hul gemeenskap te neem om dié rolprent by ʼn Ster-Kinekor-teater te gaan kyk. Stuur dan jou foto’s en die storie van die geleentheid na Helpende Hand by [email protected] Die beste foto en storie staan ʼn kans om groot pryse te wen, insluitend ʼn uitnodiging na die volgende première van een van TMF se rolprente, ʼn geskenkpakkie en klankbaan van Vrou soek ’n Boer en ‘n spa-oggend om net ‘n paar te noem. Hou ons Facebook-blad dop vir meer inligting.

Mediaskakelbeampte:
Mariné Jacobs
Solidariteit Helpende Hand
Tel.: 012 644 4390
Sel.: 072 480 4904
E-pos: [email protected]