Mediaverklaring: Helpende Hand begin met hulpverlening in Limpopo

Solidariteit Helpende Hand
18 Maart 2014

Solidariteit Helpende Hand het verlede week ’n noodfonds op die been gebring vir Limpopo-inwoners wat deur die onlangse vloede geraak is, met spesifieke fokus op die inwoners van Bela-Bela en Lephalale.

Persone en instansies wat deur die vloede geraak is, word genooi om Helpende Hand se Limpopo-streeksorganiseerder, Marianthie van der Walt, te kontak vir moontlike bystand. Van der Walt kan gekontak word by 082 741 7858.

Met fondse wat deur die SMS-lyn ontvang is, is Helpende Hand in die proses om ʼn kragopwekker vir die Warmbad Rusoord in Bela-Bela aan te koop. As gevolg van die vloede moet die rusoord vir lang tydperke sonder elektrisiteit klaarkom. Talle skenkings van kos, komberse en klere is ook ontvang wat deur die Helpende Hand Limpopo-takke versprei word.

ʼn Limpopo-inwoner wat van die noodfonds te hore gekom het, het Helpende Hand intussen gekontak en aangebied om ʼn plaaslike kleuterskool se muur wat inmekaar getuimel het, te vervang. Volgens die skoolhoof is dit noodsaaklik dat die muur dringend herbou word, omdat dit die kleuters van die besige pad voor die skool weghou.

Helpende Hand sal ook die skool met verdere opruimingswerk en herstel van die vloedskade bystaan.

“Ons is onsettend dankbaar vir die bydraes wat ons reeds ontvang het,” sê Danie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Ons doen egter ʼn beroep op die publiek om steeds skenkings aan die noodfonds te maak, omdat die vloedskade reeds baie omvattend is en skade steeds aangemeld word. Hoe meer geld ons ontvang, hoe meer mense kan ons help.”

Volgens die jongste mediaberigte is die Waterberg-streek in die provinsie reeds tot rampgebied verklaar en miljoene rande se skade is aangerig. Duisende inwoners moes glo deur reddingsdienste uit die vloede gered word en die omvang van die skade is as “kritiek” bestempel.

Die publiek kan tot die noodfonds bydra deur “RAMP” na 38969 te SMS en só R10 by te dra.

Skenkings kan ook in die volgende rekening inbetaal word:
Solidariteit Helpende Hand
FNB
Rekeningnommer: 62 331 445 503
Tjekrekening
Takkode: 250655
Verwysing: Noodfonds

Mediaskakelbeampte:
Mariné Jacobs
Solidariteit Helpende Hand
Tel.: 012 644 4390
E-pos: [email protected]