Skip to content

Mediaverklaring: Helpende Hand bou ’n kostoring van vyf ton vir Rustenburg

Solidariteit Helpende Hand
6 Junie 2014

Foto2_RustWerknemers van die onderskeie instansies binne die Solidariteit Beweging het hul harte en beursies vandeesweek oopgemaak om kos te skenk vir die nie-stakers in die platinumgordel. Solidariteit Helpende Hand versprei die kos namens al 19 instansies binne die Solidariteit Beweging.

Helpende Hand het vroeër ‘n beroep gedoen op die Solidariteit Beweging se personeel asook Solidariteit-vakbondlede om skenkings van nie-bederfbare voedsel by Helpende Hand se kantore af te laai. “Ons het binne drie dae meer as R400 000 se kos ingesamel,” vertel dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. Hoërskool Waterkloof het ook tot die kosinsameling bygedra deur ongeveer R40 000 se kos onder sy leerlinge in te samel.

Sedert Helpende Hand die platinumgordel in April tot gedeeltelike rampgebied verklaar het vanweë die voortslepende mynstaking, het die organisasie al R1,75 miljoen se hulp in die gebied verleen en 112 ton kos versprei. Dit sluit nie-bederfbare voedsel, vars groente, vrugte en vleis, babadoeke, formulemelk, sanitêre ware en ondersteuning aan nege skole se voedingskemas in.Foto1_Rust

“Hierdie staking het in ‘n humanitêre krisis ontaard wat selfs ná sy beëindiging steeds langtermyn-gevolge vir die inwoners van die platinumgordel sal inhou,” sê Brink. “Ons moedig die publiek aan om steeds skenkings te maak of tot die rampfonds by te dra sodat ons kan voortgaan om hulp aan die nie-stakers te verleen vir solank as wat nodig is.”

Mediaskakelbeampte:
Solidariteit Helpende Hand
Mariné Jacobs
E-pos: [email protected]
Tel.: 012 664 4390