Skip to content

Mediaverklaring: Helpende Hand Entrepreneurskompetisie kweek werkskepping

Solidariteit Helpende Hand
17 Februarie 2014

Inskrywings vir Solidariteit Helpende Hand se Entrepreneurskompetisie vir graad 6 tot 12-leerlinge het vandag weer geopen. Deur hierdie kompetisie poog Helpende Hand om die probleem van werkloosheid onder die jeug aan te spreek deur hulle vroegtydig met entrepreneursvaardighede te bemagtig.

Volgens die mees onlangse Adcorp-werknemersindeks is daar tans ongeveer 344 000 Suid-Afrikaners met grade, diplomas en sertifikate wat werkloos is omdat hulle nie oor die vaardighede beskik waarna werkgewers soek nie. Die verslag toon dat die getal afleggings in Januarie die hoogste die afgelope tien jaar was, met 36 290 Suid-Afrikaners wat hul werk kwyt is.

“Die statistieke dui daarop dat dit vir jongmense al hoe belangriker word om entrepreneuriese vaardighede aan te leer, sodat hulle eendag in staat kan wees om hul eie ondernemings te begin sou dit nodig wees,” sê dr. Danie Brink, die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. “Met die aanleer van entrepreneuriese vaardighede vanaf ʼn vroeë ouderdom, sal jongmense beter toegerus wees om die toekoms aan te pak. Hierdie vaardighede sal ook verseker dat ʼn agterdeur oop is as dinge in die werksplek skeefloop.”

Die kompetisie word vanjaar vir ʼn tweede keer aangebied en die totale prysgeld beloop R60 000. “Verlede jaar was die kompetisie ʼn reusesukses en dit het ons aangespoor om dit vanjaar selfs op groter skaal aan te pak,” sê Karin Venter, ʼn Helpende Hand projekorganiseerder. “Die wenner sal wegstap met R15 000 om in sy of haar beplande besigheid te belê, asook R15 000 vir sy of haar skool wat hulle kan aanwend vir entrepreneursontwikkeling.”

Eddie Pienaar is verlede jaar aangewys as die wenner van Helpende Hand se eerste Entrepreneurskompetisie en het met prysgeld van R15 000 weggestap. Daarna het Eddie ook ʼn reuse skenking van tien stoetooie en ʼn stoetram van die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging ontvang, nadat die vereniging van sy suksesvolle boerdery te hore gekom het.

Die kompetisie bestaan uit drie fases waar finaliste na elke fase deurdring na ʼn volgende rondte en sodoende toegang kry tot die materiaal vir die volgende fase. Die kompetisie word vir graad 6 tot 12-leerders aangebied en leerlinge kan inskryf op www.loopbaan.co.za. Die sluitingsdatum vir die inhandiging van besigheidsidees is 2 Mei 2014 en deelname is heeltemal gratis.

Vir meer inligting kan Karin Venter by 012 644 4390 geskakel word, of stuur ʼn e-pos aan [email protected].

Mediaskakelbeampte:
Mariné Jacobs
Solidariteit Helpende Hand
Tel.: 012 644 4390
Sel: 072 480 4904
E-pos: [email protected]