Skip to content

Mediaverklaring: Helpende Hand se Afrikaanse Beursinstituut ken studielenings van R16,6 miljoen toe in 2014

Solidariteit Helpende Hand

6 Februarie 2014

Te midde van kritiek teenoor die regering se Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFHS), het Solidariteit Helpende Hand hierdie jaar meer as R16,6 miljoen se studielenings aan 948 studente toegeken.

Annelie Lotriet, die Demokratiese Alliansie se skaduminister vir hoër onderwys en opleiding, sê dat slegs 50% van studente wat vir befondsing van die NSFHS kwalifiseer, wel befondsing ontvang. Volgens Lotriet beteken dit dat die helfte van studente met universiteitstoelating toegang tot ʼn tersiêre kwalifikasie geweier word.

Dinah Theron, hoof van die Helpende Hand Afrikaanse Beursinstituut, sê dat die instituut oorval word met studente wat dringend aansoek doen vir finansiële ondersteuning nadat hul NSFHS-studiehulp onttrek is. “Studente kan doodeenvoudig nie hul studies voortsit sonder befondsing nie,” sê Theron.

“Ek het met verskeie ouers gepraat wie se kinders in hul derde of vierde jaar is en nie verder kan studeer nie. Die slegste is dat hierdie studente met dokumentasie sit waarin die onderneming gegee word dat hulle befonds sal word en dan word die befondsing sonder enige verduideliking net onttrek.” Sy sê dat skielike onttrekking van fondse ook beteken dat die reusebedrae geld wat alreeds aan studies spandeer is, van nul en gener waarde was.

Die Afrikaanse Beursinstituut het ongeveer 3 400 aansoeke om studiehulp vir die huidige akademiese jaar ontvang, sê Theron. “Ongelukkig kan ons as gevolg van beperkte fondse nie almal help wat aansoek doen nie, maar ons weet dat ons ’n enorme verskil maak in die lewens van die jongmense wat wel gehelp kan word.”

Die Beursinstituut het in 2008 met slegs drie studiefondse begin en bestuur vandag 114 beursfondse. Die beskikbare fondse in die beursplatform het die afgelope jaar met meer as R4 miljoen toegeneem. In 2013 is net meer as R12 miljoen se rentevrye studielenings toegestaan.

Elke jaar moet talle matrikulante met universiteitstoelating doodeenvoudig sonder ʼn tersiêre kwalifikasie klaarkom as gevolg van ʼn tekort aan finansiële ondersteuning, sê dr. Danie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Hierdie jongmense begin klaar hul volwasse lewe met ʼn agterstand. Uit alle volwassenes in Suid-Afrika wat nie oor ʼn tersiêre kwalifikasie beskik nie, het slegs 37% werk. Onder diegene wat oor ʼn tersiêre kwalifikasie beskik, het 79% werk – ʼn baie groot voorsprong bo die res.”

“Deur rentevrye studielenings aan studente beskikbaar te stel, gee ons hulle die geleentheid om hul drome na te jaag, terwyl hulle terselfdertyd noodsaaklike vaardighede aanleer wat onmisbaar in ons ekonomie gaan wees,” sê hy.

Die merkwaardige groei van die Afrikaanse Beursinstituut is deur die bydraes van verskeie individue en instellings moontlik gemaak. Die Solidariteit Beweging ploeg self ook terug in die gemeenskap deur onder andere die JD Kestell-fonds, Opleidingstrust en verskeie gemeenskapsbeursfondse.

Die instituut het ook beroepsgerigte studiefondse beskikbaar, soos die A.G. Visser Geneeskunde-studiefonds wat in 2012 gestig is,  en ken ook talle rentevrye studielenings toe aan studente wat ambagte studeer.

Om deel te word van ’n beter toekoms, kontak Dinah Theron by 012 644 4428 of [email protected].

Mediaskakelbeampte:

Mariné Jacobs

Solidariteit Helpende Hand

Tel.: 012 644 4390

Sel: 072 480 4904

E-pos: [email protected]