Skip to content

Mediaverklaring: Helpende Hand se wiskunde-klub leer kinders geheime boodskappe ontsyfer

Solidariteit Helpende Hand
8 Junie 2014

Wisk_01

Van links is dr. Danie Brink (uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand) saam met die wenners van die wiskunde-klub kompetisie, Mariette van Reenen (ouer), Lourens van Niekerk (HTS John Vorster), Magdalena de Villiers (Gereformeerde Skool Dirk Postma), Henning Noeth, (Gereformeerde Skool Dirk Postma) en Valentyn van der Merwe (onderwysspesialis by die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers).

Die afgelope week het Solidariteit Helpende Hand se eerste wiskunde-klub in die land ’n dekoderingskompetisie vir leerlinge en onderwysers aangebied.

Vir die afgelope vier Maandae is die meer as 30 deelnemers geleer hoe om geheime boodskappe te dekodeer met behulp van kragtige wiskundige stellings. Deelnemers moes teen mekaar kompeteer en poog om die geheime boodskap die vinnigste te ontsyfer. In die proses het hulle onder andere berekeninge gedoen met getalle wat meer as 770 syfers lank is – getalle wat te groot is vir ’n gewone sakrekenaar en wat nie sonder kragtige stellings behartig kan word nie.

“Die metode wat deelnemers gebruik het, word wêreldwyd vir kodering gebruik en staan bekend as die RSA publieke kriptosisteem,” vertel dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. “Hierdie kriptosisteem is vernoem na die metode se drie uitvinders, Rivest, Shamir en Adleman.”

Die algehele wenner, Henning Noeth, ’n Graad 11-leerling van Gereformeerde Skool Dirk Postma, het die boodskap in 46 minute ontsyfer en sodoende ’n iPad Mini gewen. Lourens van Niekerk van HTS John Vorster, Magdalena de Villiers van Gereformeerde Skool Dirk Postma en ’n tuisskool-mamma, Mariette van Reenen, het elk ’n iPod Touch gewen deur ook die boodskap reg te dekodeer.

“Die wiskunde-klub, ’n projek van Helpende Hand se Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers, gaan gedurende die derde kwartaal voort om aan wiskundig-talentvolle hoërskoolkinders lekker en interessante wiskunde te leer,” sê Brink.

Belangstellendes kan meer uitvind oor die wiskunde-klub deur www.skoolwiskunde.co.za te besoek of ’n e-pos te stuur na [email protected].

Mediaskakelbeampte:
Solidariteit Helpende Hand
Mariné Jacobs
Tel: 021 644 4390
E-pos: [email protected]