Mediaverklaring: Helpende Hand skenk kragopwekkers aan vloedslagoffers in Limpopo

Solidariteit Helpende Hand
19 Maart 2014

BelaBela3_smallSolidariteit Helpende Hand het gister (18 Maart) twee kragopwekkers aan Limpopo-instansies wat deur die onlangse vloede geraak is, geskenk.

Hierdie fondse is deur die Helpende Hand SMS-lyn ontvang en is deel van die Helpende Hand Limpopo-noodfonds wat op die been gebring is om hulp aan vloedslagoffers in Bela-Bela en Lephalale te bied.

Een van die kragopwekkers is aan Warmbad Rusoord in Bela-Bela oorhandig. As gevolg van die vloede moet die rusoord vir lang tydperke sonder elektrisiteit klaarkom. Die ander kragopwekker is aan SAVF Maroela Oord in Lephalale geskenk. Daar is ook vir elk van die instansies 25 liter petrol aangekoop.

Hannetjie Le Roux (92), ’n inwoner van die Warmbad Rusoord, was baie opgewonde en dankbaar oor die skenking. “Die kragopwekker gaan baie help as die krag afgaan, want ons kan nie sonder krag klaarkom nie,” sê sy. “Ek is so bly en dit gaan my vriende in die versorgingsafdeling die meeste help, omdat hulle nie hulself kan versorg nie.”

Anne van Blerk, bestuurder van Warmbad Rusoord, het bygevoeg dat die kragopwekker hul daaglikse roetine aansienlik sal vergemaklik. “Dit hou die wiele aan die rol, want ons is van elektrisiteit afhanklik. Die bejaardes se wasgoed moet daagliks gewas word. As die krag af is, raak die yskaste ʼn probleem. Die mense wat die meeste hierby sal baat, is die bejaardes in die versorgingseenheid,” sê sy.

Volgens Riaan du Plooy, adjunkhoof van onderwys en opleiding by Helpende Hand, sê dat dit vir die organisasie belangrik is om na behoeftiges uit te reik, veral in tye van nood. “Hierdie kragopwekker gaan daartoe bydra om hul lewensomstandighede in tye van nood te verbeter, soos met die oorstomings wat plaasgevind het of tydens beurtkrag.”

Die publiek word uitgenooi om enige vloedskade van persone en instansies in Limpopo aan te meld by Helpende Hand se Limpopo-streeksorganiseerder, Marianthie van der Walt, by 082 741 7858, vir moontlike bystand.

Die publiek kan steeds tot die noodfonds bydra deur “RAMP” na 38969 te SMS en só R10 by te dra.

Skenkings kan ook in die volgende rekening inbetaal word:

Solidariteit Helpende Hand
FNB
Rekeningnommer: 62 331 445 503
Tjekrekening
Takkode: 250655
Verwysing: Noodfonds

Mediaskakelbeampte:
Mariné Jacobs
Solidariteit Helpende Hand
Tel.: 012 644 4390
E-pos: [email protected]