Skip to content

Mediaverklaring: Helpende Hand stel Entrepreneurskompetisie in Gauteng bekend

Solidariteit Helpende Hand

7 Maart 2014

Solidariteit Helpende Hand besoek vanaf 10 Maart 2014 verskeie Gauteng-skole om die organisasie se jaarlikse Entrepreneurskompetisie bekend te stel.

Karin Venter, ʼn Helpende Hand projekorganiseerder, sal skole regoor die provinsie besoek om leerders te vertel van die kompetisie en kreatiewe besigheidsdenke aan te wakker. “Ek is baie opgewonde om te sien watter oorspronklike besigheidsidees hierdie jaar uit die Gauteng-streek sal kom,” sê Venter. “Verlede jaar was ons tweedeplek-wenner van Pretoria af, so Gauteng het hierdie jaar ʼn titel om te verdedig!”

Elana Marais, ʼn leerder van Hoërskool Waterkloof, het verlede jaar met R7000 prysgeld vir haarself en haar skool weggestap toe sy met haar “Doodle-projek” tweede gekroon was. Sy het ook ʼn addisionele R1000 ingepalm omdat sy as die gehoor se gunsteling aangewys was.

Marais het beskuit gebak en verkoop. “Omdat beskuitpryse baie hoog is en mense nie meer tyd kry om self te bak nie, het ek hierdie geleentheid raakgesien. Mense smag na lekker tuisgebakte beskuit,” vertel sy.

Soos haar verkope gegroei het, het sy ook bestellings vir ander lekkernye geneem soos fudge. “Later gaan ek my besigheid uitbrei deur unieke pennesakkies en interessante T-hemde te verkoop.”

Marais sê sy het tydens die entrepreneurskompetisie agtergekom dat dit baie moeiliker is om ʼn besigheid te begin as wat dit klink. “Dit het my ook geleer dat indien ek ʼn besigheid wil maak werk, moet ek my tyd baie fyn beplan tussen skool, sport en vriende deur.”

Inskrywings vir die kompetisie het 17 Februarie geopen en talle leerders het alreeds vir die kompetisie geregistreer. “Ons sien baie uit om hierdie jaar weer baie oulike besigheidsidees te ontvang,” sê Venter. “Verlede jaar was die kompetisie ʼn reuse sukses en dit het ons aangespoor om dit vanjaar selfs op groter skaal aan te pak.”

Die kompetisie is oop vir leerlinge van graad 6 tot graad 12 en inskrywings is gratis. Die wenner kan wegstap met R15 000 om in sy of haar beplande besigheid te belê, asook R15 000 vir sy of haar skool wat die skool kan aanwend vir entrepreneursontwikkeling. Die wenner sal ook op Kyknet Ontbytsake verskyn om met hul eie besigheid te spog.

Die kompetisie bestaan uit drie fases waar finaliste na elke fase deurdring na ʼn volgende rondte en sodoende toegang kry tot die materiaal vir die volgende fase. Leerlinge kan registreer op www.loopbaan.co.za en die sluitingsdatum vir die inhandiging van besigheidsidees is 2 Mei 2014. Die volledige prosedure vir inskrywings is ook op die webblad beskikbaar.

Deur hierdie kompetisie poog Helpende Hand om die probleem van werkloosheid onder die jeug aan te spreek deur hulle vroegtydig met entrepreneursvaardighede te bemagtig. “Met die aanleer van entrepreneuriese vaardighede vanaf ʼn vroeë ouderdom, sal jongmense beter toegerus wees om die toekoms aan te pak. Hierdie vaardighede sal ook verseker dat ʼn agterdeur oop is as dinge in die werksplek skeefloop en dat hulle altyd ʼn Plan B sal hê,” sê Venter.

Vir enige navrae kan Karin Venter by [email protected] gekontak word.

Mediaskakelbeampte: 
Mariné Jacobs
Solidariteit Helpende Hand
Tel.: 012 644 4390
Sel: 072 480 4904
E-pos: [email protected]