Mediaverklaring: Middelburg-myngemeenskap reik uit na inwoners van platinumgordel tydens Helpende Hand uitreikaksie

Solidariteit Helpende Hand
7 Junie 2014

Foto2‘n Myngemeenskap in Middelburg het gister ‘n groot skenking aan inwoners van die platinumgordel gemaak deur middel van ‘n Solidariteit Helpende Hand uitreikaksie. Helpende Hand het gister 100 gesinspakkies aan vrouens in Rustenburg uitgedeel as deel van ‘n vroue-uitreik in die platinumgordel.

Ronel Smit, ‘n inwoner van Middelburg en organiseerder van die skenking, vertel dat hulle graag die inwoners van die platinumgordel wou help omdat die saak hulle na aan die hart lê. “Talle Middelburg-besighede en individue het gehelp om sanitêre ware en kos vir die Rustenburg-mense in te samel,” sê sy. “Ons het innige meegevoel met die inwoners en ons weet dit kan met enige iemand gebeur.”

Bekende aktrise en aanbieder, Lindi Strydom, het hand bygesit om die pakkies uit te deel en die dames te motiveer. Die pakkies het nie net kos bevat nie, maar ook sanitêre ware, ‘n basiese behoefte wat talle nie meer kan bekostig nie.

“Dit was vandag vir my opvallend hoe sterk Helpende Hand se netwerk is en hoe belangrik so netwerk is,” sê Strydom. “Die effektiewe skakeling met die kerke en ander organisasies spreek van gesonde samewerking. Ek het vandag self beleef hoe effektief [Helpende Hand se] uitreikaksies is in terme van die registrasie-proses, duplisering wat uitgeskakel word en skenkings wat van regoor die land ontvang en vervoer word.”Foto1

Strydom vertel ook dat baie inwoners in die platinumgordel finansieel en emosioneel swaar trek. “’n Mens hoor hoop en jy sien planmakers wat oplossings raaksien, maar daar is ouens wie se skouers hang. Jy kan net hoop dat die mense wat moedeloos is en die planmakers by mekaar uitkom om mekaar te motiveer. Die gemeenskap moet op mekaar steun, fokus op die positiewe en een dag op ‘n slag vat.”

Sedert Helpende Hand die platinumgordel in April tot ʼn gedeeltelike rampgebied verklaar het vanweë die voortslepende mynstaking, het die organisasie al R1,75 miljoen se hulp in die gebied verleen en 112 ton kos versprei. Dit sluit nie-bederfbare voedsel, vars groente, vrugte en vleis, babadoeke, formulemelk, sanitêre ware en ondersteuning aan nege skole se voedingskemas in.

Mediaskakelbeampte:
Mariné Jacobs
Solidariteit Helpende Hand
Tel.: 012 644 4390
E-pos: [email protected]