Mediaverklaring: Nog ’n hupstoot vir Helpende Hand se Skooltassieprojek in Gauteng

Solidariteit Helpende Hand

11 Februarie 2014

Solidariteit Helpende Hand se Skooltassieprojek in Gauteng het pas ʼn bykomende hupstoot gekry toe nόg skryfbehoeftes ter waarde van meer as R110 000 aan die projek geskenk is.

Silveray Statmark Company (SSC) het poeierverf, telrame, klei en penne geskenk om by die tassies wat reeds in Gauteng uitgedeel is, te voeg. Die maatskappy is ook die verskaffer van die skooltassies en het alreeds baie afslag aan die projek besorg.

Helpende Hand het hierdie jaar 4 600 skooltassies by 208 skole regoor die land uitgedeel as deel van die organisasie se Skooltassieprojek. Elke rugsakkie het vanjaar ʼn skêr, gom, liniaal, witbord, penneblikkie, inkleurpotlode, uitdraaikryte, waskryte, witbordpenne, uitveër, skerpmaker, inkleurboek, witbord-uitveër, klei, waterverf, legkaart, springtou en tennisbal bevat, asook die Bybelgenootskap se My eerste Bybel doen en leer boek wat deur die Bybelgenootskap geskenk is.

Hierdie week is die addisionele skryfbehoeftes aan 30 skole in die provinsie uitgedeel. Anel du Preez, projekorganiseerder van die Skooltassieprojek, sê dat die projek vanjaar die grootste nog was en dat die sukses hand aan hand loop met die ondersteuning van die vennote en borge. “Ons is baie dankbaar vir al die skenkings wat hierdie projek moontlik maak, omdat dit ons in staat stel om elke jaar ’n verskil in nog meer kinders se lewens te maak,” sê Du Preez.

“Met die nasionale Skooltassieprojek dra Helpende Hand by om behoeftige Afrikaanssprekende graadeens te ondersteun om hul skoolloopbaan op ʼn gelyke vlak met klasmaats te begin,” sê dr. Danie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Ons glo dat armoede uitgeroei kan word deur in opleiding te belê. Vir Helpende Hand begin dit reeds met die gevoel van hoop wat die nodige gereedskap vir hierdie kinders skep.”

Silveray Statmark Company, ‘n volfiliaal van die Bidvest Groep, is ‘n vervaardiger en verspreider van ’n wye verskeidenheid skryfbehoeftes vir kantore, skole en maatskappye. Die maatskappy het landswyd takke in Johannesburg, Durban, Kaapstad, Port Elizabeth, Oos-Londen, Pretoria en Bloemfontein.

 

Mediaskakelbeampte:

Mariné Jacobs

Solidariteit Helpende Hand

Tel.: 012 644 4390

Sel: 072 480 4904

E-pos: [email protected]