Skip to content

Mediaverklaring: Nuwe graad 8-leerlinge van Hoërskool Volksrust en Hoërskool Pionier ontvang wiskunde-rugsakkies van Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand

4 Februarie 2014

Solidariteit Helpende Hand het gister 265 wiskunde-rugsakkies aan die Graad 8-leerders van Hoërskool Volksrust in Mpumalanga en Hoërskool Pionier in Vryheid uitgedeel as deel van die organisasie se 8te-tas-projek. Vandag is ’n verdere 100 rugsakkies by die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad uitgedeel.

Die 8te-tas-projek word in samewerking met die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (V.A.W.), Fedsas en die Virseker Trust aangebied met die oog op die bevordering van graad agts se wiskundige vaardighede.

Elke sakkie bevat ’n finansiële sakrekenaar en passerstel. Ook ingesluit in die pakket is die bywoning van ’n algebrakamp aangebied deur die V.A.W. en elke ontvanger van so ’n rugsakkie kan ook ’n vakkeusetoets, wat deur Helpende Hand se Beroepsleiding-afdeling aangebied word, gaan aflê. Dit sal hulle aanstaande jaar kan gebruik om hulle te lei om die regte vakkeuses uit te oefen wat uiteindelik ’n merkbare invloed op hul beroepskeuses sal hê.

Om die wiskunde-onderwysers wat met dié leerlinge werk se onderrigvaardighede en aanbiedingstegnieke op te skerp, sal vier wiskunde-onderwysers van elke deelnemende skool ʼn jaar se lidmaatskap van die V.A.W. ontvang en sal hulle ʼn drie dag lange streekkongres, aangebied deur die vereniging, kan bywoon.

“Werkloosheid is ’n omvangryke probleem in Suid-Afrika en die oplossing daarvan moet op verskillende maniere aangepak word,” sê dr. Danie Brink, die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. “In ontwikkelde lande het gemiddeld sowat 65% van alle volwassenes werk. Uit alle volwassenes in Suid-Afrika wat nie oor ʼn tersiêre kwalifikasie beskik nie, het slegs 37% werk. Onder diegene wat oor ʼn tersiêre kwalifikasie beskik, het 79% werk – ʼn baie groot voorsprong bo die res,” verduidelik hy. “Deur op skool met wiskunde en wetenskap vol te hou, is een manier waarop leerlinge hul kanse kan verhoog om later ʼn tersiêre kwalifikasie te kan verwerf.”

Die doel van die 8te-tas-projek is dus om vroegtydig aandag te gee aan ontwikkelingsprobleme wat met die leerproses gepaardgaan, sê Brink. “Die produkte en dienste wat gelewer word, het ten doel om die leerling te help om voorkeurberoepe te ontsluit waarin hul vaardighede eendag onmisbaar gaan wees in die ekonomie. Dit is krities vir jongmense om wiskunde vir so lank as moontlik as vak te neem om só ’n beter toekoms vir hulself te verseker.”

Virseker Trust het vanjaar R100 000 in die 8te-tas-projek belê.

“Virseker is trots deel van hierdie fantastiese projek,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker. “Dis een wat ons glo van die grondslagprobleme in die Suid-Afrikaanse opleidingstelsel by die horings pak. Dit bied nie alleen aan leerlinge die geleentheid om Graad 8 met die nodige hulpmiddels aan te pak nie, maar dit staan hulle ook by om ingeligte besluite rakende hul vakkeuses te neem en so ’n groter kans te staan om hul hoërskoolloopbane suksesvol te voltooi. ’n Projek soos dié skep ’n uitstekende kweekgrond vir Suid-Afrika se toekomstige leiers en Virseker ondersteun dit heelhartig.”

Die 8te-tas-projek word vanjaar vir die eerste keer aangebied met die oog op verdere uitbreiding volgende jaar.

 

Mediaskakelbeampte:

Mariné Jacobs

Solidariteit Helpende Hand

Tel.: 012 644 4390

Sel: 072 480 4904

E-pos: [email protected]