Mediaverklaring: Solidariteit Helpende Hand gryp in by skolevoedingskemas in Limpopo

Solidariteit Helpende Hand

Limpopo2sBehoeftige leerlinge van ses laerskole in Limpopo sal vir die res van die jaar met vol magies kan speel en leer. Dít, danksy Solidariteit Helpende Hand wat met sy nasionale Kosblikkieprojek ingegryp het by ʼn paar skole in dié provinsie wat nie by regeringsvoedingskemas baat nie.

Ondersoeke deur onder meer die openbare beskermer na die tenderprosesse wat die Limpopo-onderwysdepartement met die toekenning van skolevoedingskemas gevolg het, is tans aan die gang.

Helpende Hand het Vrydag Spar-kaarte aan ses uitgesoekte skole oorhandig waarmee hulle vir die res van 2014 maandeliks van die produkte kan aankoop wat vir hul voedingskemas benodig word. By al hierdie skole word daar ʼn voedingskema deur ’n ouer of onderwyser bestuur wat ten volle afhanklik is van kerke se samewerking en skenkings uit die gemeenskap. Die voedingskemas is noodsaaklik omdat dit in baie gevalle die enigste kos is wat die leerlinge elke dag kry.

Tesame met die Spar-kaarte, het Helpende Hand ook Vrydag by Laerskool Pietersburg-Suid ʼn maand se kosprodukte oorhandig aan elke huisgesin wat van die skool se voedingskema afhanklik is, sodat die leerders nie gedurende die skoolvakansie honger ly nie.

Peet Bredenkamp, skoolhoof van Laerskool Pietersburg-Suid, sê dat Helpende Hand se bydrae ʼn onmisbare verskil in die lewens van die skool se behoeftige leerders en gesinne maak. “Ons is baie dankbaar vir Solidariteit Helpende Hand. Hierdie projek leer ook ons kinders om te deel en te gee aan die wat dit die nodigste het.”

Helpende Hand se kosblikkieprojek het verlede jaar 6 500 behoeftige kleuters regoor die land gevoed.

“Helpende Hand glo dat akademiese ondersteuning van behoeftige jongmense lei tot hul opheffing omdat akademiese sukses goeie geleenthede tot gevolg het,” sê dr. Danie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Opleiding is die instrument wat ‘n mens beskerm teen armoede en daarom is dit vir Helpende Hand belangrik om ook ‘n bydrae te lewer tot deeglike voeding vir kinders. ‘n Kind kan onmoontlik sy volle potensiaal op die skoolbanke bereik as daar nie eers in sy mees basiese behoefte – kos – voorsien word nie.”

 

Mediaskakelbeampte:
Mariné Jacobs
Solidariteit Helpende Hand
Tel.: 012 644 4390
E-pos: [email protected]