Mediaverklaring: Spertyd wink vir Helpende Hand Projek van die Jaar kompetisie

Solidariteit Helpende Hand
11 Maart 2014

Daar is net meer as twee weke oor vir lede van die publiek om te registreer vir Solidariteit Helpende Hand se Projek van die Jaar kompetisie.

Helpende Hand het hierdie jaar die Projek van die Jaar kompetisie geloods om sodoende R1.5 miljoen terug te ploeg in behoeftige gemeenskappe deur middel van effektiewe en volhoubare projekte.

Anel du Preez, die projekorganiseerder, verduidelik dat Helpende Hand gereeld navrae kry ook hoe ʼn behoefte aangespreek kan word en hoe volhoubare gemeenskapsprojekte van stapel gestuur en befonds kan word. “Dit is juis as gevolg van hierdie vrae dat Helpende Hand fondse in die gemeenskap wil terugploeg en terselfdertyd deelnemers wil touwys maak oor hoe ‘n goeie projek saamgestel kan word wat op die verligting, voorkoming en verbreking van armoede en die volhoubare bemagtiging van die gemeenskap fokus,” sê sy.

Aansoeke vir die kompetisie is reeds oop en sluit op 27 Maart 2014, waarna Helpende Hand die beste projekte sal identifiseer. Van daar moet die projekte ondersteuning vanuit hul eie gemeenskappe werf deur met plaaslike organisasies, kerke of skole te gesels oor hul projekplan.

Gemeenskappe kan vir die projekte stem deur ʼn SMS uniek aan die betrokke projek te stuur. Die gemeenskap se SMS-stemme bepaal hoeveel kapitaal die projek beskikbaar gaan hê vir die drie-maande-implementeringsfase, wat in Mei begin. Die projek benodig ʼn minimum van 50 unieke SMS-stemme om deel te neem, maar hoe meer stemme ontvang word, hoe meer befondsing sal die projek ontvang. As die projek 500 SMS-stemme ontvang, befonds Helpende Hand die projek met R45 000.

In Julie 2014 word die geïmplementeerde projekte geëvalueer volgens bepaalde kriteria en drie wenners word aangewys, wat dan onderskeidelik R150 000, R100 000 en R50 000 sal wen.

Vir meer inligting, besoek die Helpende Hand-webtuiste by www.helpendehand.co.za/projekvandiejaar of kontak Anel du Preez by 083 375 7309 of [email protected].

Mediaskakelbeampte:
Mariné Jacobs
Solidariteit Helpende Hand
Tel.: 012 644 4390
Sel: 072 480 4904
E-pos: [email protected]