Deur dr. Rina Smith en Isabel Faurie

Wat is ‘n mentor?
Oprah Winfrey skryf: “A mentor is someone who allows you to see the hope inside yourself.”
In die konteks van maatskaplike werk is ‘n mentor die maatskaplike werker wat hoop help ontsluit – nie deur antwoorde te gee nie, maar deur mense te help om hul eie ligpunt te vind. Só ‘n mentor beskik oor die vermoë om ‘n toekomspad te verhelder en ander te begelei na selfontdekking en selfbestuur.
Die maatskaplike werker as mentor speel ‘n sleutelrol in die ontwikkeling van individue, groepe en gemeenskappe en werk doelgerig om potensiaal te help ontgin eerder as om bloot probleme op te los of uitdeelaksies te loods.
Die sleutelfunksies van ‘n mentor
Die funksie van die mentor lê op ‘n kontinuum tussen stootkrag (stoot) en trekkrag (trek). Dit is veral die trekkragbenadering wat ‘n mentor toerus om persone te begelei om hulself aan hul veters op te trek. Hierdie benadering is veral relevant in maatskaplike werk, aangesien dit mense bemagtig om hul eie kapasiteit en oplossings te ontdek. So vind selfontwikkeling, met spesifieke klem op potensiaalontwikkeling, plaas.
Mentorskap funksioneer volgens die trekkragbenadering, aangesien dit individue, groepe en gemeenskappe begelei om self hul uitdagings te identifiseer en daarmee te werk. Dié benadering is nie ‘n riglyn of aanwysings nie, maar bevorder ‘n dinamiese, wedersydse verhouding.
Maatskaplike werkers as mentors pas die trekkragbenadering toe as kernbeginsel van etiese en volhoubare maatskaplike werk. Hulle beskou individue, groepe en gemeenskappe as aktiewe deelnemers aan hul eie toekomsplanne.
Die profiel van ‘n suksesvolle mentor
‘n Suksesvolle mentor in maatskaplike werk moet oor bepaalde bevoegdhede, vaardighede, kennis en waardes beskik. Die kernbevoegdheid fasilitering is ‘n voorvereiste. Dit is die vermoë om prosesse en ontwikkeling te begelei sonder om dit te oorheers.
Die volgende eienskappe is noodsaaklik en stel die maatskaplike werker in staat om ‘n geloofwaardige en betroubare mentor vir ander te wees:
Vaardighede
- Kan vertrouensverhoudings bou
- Effektiewe kommunikasievaardighede
- Kan doelgerigte vrae stel
- Kan aktief en empaties luister
- Kan parafraseer om te wys jy het iemand reg verstaan of om ‘n boodskap duideliker oor te dra
- Kan verheldering gebruik wanneer iets vaag of dubbelsinnig is om seker te maak jy verstaan die kernboodskap reg
- Kan ‘n opsomming met duidelike kernpunte maak
- Kan eerlike, konstruktiewe terugvoer gee
Kennis
- Kennis van en insig in menslike beskouings en hul konteks
- Is ingelig oor maatskaplike tendense, wetgewing en relevante maatskaplike onderwerpe wat betrekking het op die mentorskap
Waardes
Waardes vorm ‘n integrale deel van mentorskap aangesien suksesvolle mentorskap sonder ‘n waardestelsel nie moontlik is nie. Die volgende waardes is ononderhandelbaar in ‘n mentor se mondering en is eie aan maatskaplike werk:
- Integriteit
Om konsekwent reg op te tree, eerlik te wees en vertroue te handhaaf - Eerlikheid
Om openlik en opreg te kommunikeer, selfs wanneer dit ongemaklik is - Respek sonder veroordeling
Om elke individu, groep en gemeenskap se uniekheid, waardigheid en perspektief te erken en in ag te neem - Empatie
Om jouself in die ander se skoene te plaas en met deernis te luister en reageer - Betroubaarheid
Om konsekwent (binne aanvaarbare grense) teenwoordig, beskikbaar en ondersteunend te wees - Verantwoordbaarheid
Om aanspreeklik te wees vir jou dade en die impak daarvan op ander - Nederigheid
Om te weet dat mentorskap nie oor mag of beheer gaan nie, maar oor diens en begeleiding - Vertroulikheid
Om konfidensiële en persoonlike inligting vertroulik te hanteer - Regverdigheid
Om sonder vooroordeel of voorkeur op te tree en elke mens met waardigheid te behandel
Die vennootskapsverhouding: Maatskaplike werker as medereisiger
Die vennootskap tussen die mentor (maatskaplike werker) en die individu, groep of gemeenskap wat gementor word (“mentee”) is ‘n vaardigheidsgebaseerde vennootskap waarin die “mentee” geleentheid kry om kennis op te doen en vaardighede en potensiaal te ontwikkel. Die mentor ondersteun en moedig die “mentee” aan om sy/haar/hul eie ontwikkeling te bestuur. Hierdie vennootskap is nie hiërargies nie, maar gelykwaardig.
Die maatskaplike werker as mentor:
- skep ruimte vir ander om hul eie kennis, vaardighede en selfvertroue te ontwikkel;
- ondersteun en motiveer, maar neem nie oor nie; en
- ondersteun die “mentee” om beheer oor hul eie ontwikkeling te neem.
Mentorskap onderskryf dus die wese van maatskaplike werk:
- nie om te red nie, maar om te bemagtig;
- nie om te beheer nie, maar om te bevry.
Die maatskaplike werker as mentor is dus ‘n medereisiger – iemand wat saamstap en aanmoedig, maar altyd ruimte laat vir die ander om hul eie koers te kies. Sodoende word die “mentee” die persoon/groep/gemeenskap wat hulle graag wil wees.