Monumentreeks opgedra aan W.H. Coetzer (gebore op 9 November 1900) #Monumentaal

Vandag se #Monumentreeks is vir ons werklik #monumentaal.

Vandag vier ons die bekende Afrikaanse kunstenaar W. H. Coetzer se geboortedag. Willem Hermanus Coetzer is gebore op 9 November 1900 op Tarkastad in die Oos-Kaap. Hy is veral bekend vir sy stillewes en portrette oor die Suid-Afrikaanse leefstyl, kultuur en landskappe. W. H. Coetzer is deel van ons erfenis en sy nalatenskap eggo steeds oor geslagte heen met sy kunswerke oor die boeregeskiedenis wat steeds in die Voortrekkermonument pronk.

Vandag gedenk ons hierdie merkwaardige kunstenaar se werk, met een van ‘n reeks klavierstukke deur Petro Kamffer Reyneke.

Petro Kamffer Reyneke (gebore Kamffer-1943 ), het in 1951 met klavieronderrig begin. In 1953 begin haar musiekloopbaan as ‘n leerling aan die Blyvooruitsig Laerskool in The Hill, Jhb wat die daaropvolgende jaar herdoop is na W.H. Coetzer Laerskool. Op 10 jarige ouderdom begelei Petro die Messiah en Elijah- Handel vir die ASAF-koor, (waarin W.H. Coetzer en sy vrou ook gesing het).

W. H. Coetzer was dus al van ‘n vroeë ouderdom bewus van haar klaviertalent en beveel toe aan dat sy die “Lyrische Stücke-Greig” aanskaf. Daarom dra sy ook dan die “Lyrische Stücke” aan hom op. Coetzer sou vandag 120 jr. oud wees. Musiek en poësie, het sy skilderkuns geïnspireer, bv. Dvorak se “New World Symphony”.

Haar boodskap aan Coetzer vandag, kom uit ‘n opstel deur Marthinus Versfeld genaamd ‘Tyd, spoed en lewenswyse’: “God is die naam van die tyd wat ewig is, van die skeppende stilte, die ingekeerdheid wat ook die Woord is wat die heelal dig. En aangesien elke dag die uitspreek van die Woord is, word die wese van die lewe die vermoë om te hoor. Jy ken ‘n man aan sy musiek. Tyd wat ewig is, ‘skeppende stilte’ en ‘die vermoë om te hoor”.

Vir die volgende paar weke deel ons ook ‘n reeks klavierstukke deur Petro, as deel van ons weeklikse #grendelgenoot-pakkie. Ons deel met trots volgende Maandag die volgende stuk.