Motorfietsryers neem bejaardes vir pretrit by Kerspartytjie

Die strate van Danville is Saterdag 9 Desember 2017 gevul met die geluid van brullende motorfietse toe Solidariteit Helpende Hand se Motorfietsklub ’n groep behoeftige bejaardes kom oplaai het. Die bejaardes is vir ʼn pretrit op die motorfietse geneem en bederf met ’n Kersete, kompleet met ’n Kersvader op ’n motorfiets, en hope geskenke.

 

Helpende Hand se motorfietsklub is in Februarie 2014 gestig deur ’n groep motorfiets-geesdriftiges wat ’n passie vir goeie werke het. Hierdie geharde manne en vroue het ’n sagte plekkie vir veral die bejaardes van Danville Tehuis vir Bejaardes in Pretoria-Wes.

 

“Ons is reeds sedert 2014 by die ouetehuis betrokke,” sê dr. Johan Böning, voorsitter van die Helpende Hand Motorfietsklub. “Die tannies is ’n ware inspirasie. Hulle het nie net by hul omstandighede berus nie, maar streef daarna om selfversorgend te wees. Hulle het verskeie selfdoenprojekte om fondse in te samel. Dit is veral hierdie tannies met hul uitmuntende gees en liefde vir die lewe!”

 

Elke jaar hou die motorfietsklub ’n spesiale ete vir die bejaardes en bederf hulle dan met musiek, eetgoed en ’n klomp geskenke. Elke geskenkpakkie is gevul met die nodige kruideniers- en toiletware om die bejaardes se Kerstyd ’n feestelike geleentheid te maak.

 

Die motorfietsklub het die bejaardes met ’n bus gaan oplaai en na [email protected] geneem. Die bus is vergesel deur brullende motorfietse.  ’n Paar van die meer waaghalsige tannies het saam op die motorfietse gery. Hulle was nie een bang om op die motorfietse te ry nie!

 

Volgens Dr. Johan Böning,   wil Helpende Hand ten alle koste verhoed dat bejaardes in stilte swaarkry. Ons will ook aan hul erkenning gee vir hul bydraes deur die jare en wil hul verseker dat ons as Afrikaner gemeenskap vir hul omgee! Om hierdie redes   het die  tak besluit om die bejaardes uit te neem vir die Kersete. “Bejaardes vorm ’n baie belangrike deel van ons samelewing, maar weens siekte of armoede word hulle dikwels randfigure wat vereensaam. Helpende Hand wil graag die publiek uitdaag om die bejaardes in hul gemeenskappe te ondersteun en lief te hê.”

 

Vir meer inligting oor Helpende Hand se projekte om bejaardes te ondersteun, besoek www.helpendehand.co.za of kontak Lizelle Joubert op 012 344 4390. Om die projek te ondersteun, SMS die woord OMGEE na 38969 (SMS kos R10).