Skip to content

Mynlikwidasie: Eskom gevra om ligte aan te hou

Solidariteit Helpende Hand het vandag ʼn beroep op Eskom gedoen om nie die humanitêre krisis in die omliggende area van die Consolidated Murchison-myn naby Phalaborwa te vererger nie.

Dit kom nadat Eskom verlede week kennis gegee het dat die krag na die mynhuise teen 23 Maart afgesny sal word, mits ʼn uitstaande rekening van meer as R5 miljoen vereffen word.

Die Consolidated Murchison-myn, wat grootliks aan Village Main Reef behoort, is verlede maand voorlopig gelikwideer. Ongeveer 1 000 werknemers verdien sedert 10 Februarie geen inkomste nie en is finansieel op hul knieë gedwing. Talle gesinne is aan die myn se produksiestaking uitgelewer en moet nou op skenkings van voedsel en ander lewensmiddele staatmaak om te oorleef. Gemeet daaraan dat die gemiddelde huisgesin uit sowat vier lede bestaan, raak hierdie krisis nagenoeg 4 000 mense.

“Die werknemers van die myn woon steeds in huise wat deur die myn aan hulle voorsien word totdat die likwidasieproses afgehandel is,” sê Riaan du Plooy, Helpende Hand se adjunk uitvoerende hoof van nasionale strukture. “Indien die kragtoevoer afgesny word, sal hierdie mense en die ander inwoners van Gravelotte sonder elektrisiteit en water sit, aangesien die watervoorsiening afhanklik is van elektrisiteit. Ons het daarom ʼn beroep op Eskom gedoen om barmhartigheid aan die dag te lê en hierdie onskuldige mense genoegsame tyd te gee om weer op hul voete te kom.”

Helpende Hand het ook ʼn beroep gedoen op Village Main Reef, wat 76,6% van die myn besit, om ten minste ʼn gedeelte van die Eskom-rekening te betaal en dit dus vir Eskom moontlik te maak om die kennistydperk te verleng.

Helpende Hand versprei sedert Februarie voedsel en ander lewensmiddele aan gesinne in die area. Verder help die organisasie persone wat deur die myn se likwidasie werkloos gelaat is om hul CV’s op te stel en deur Helpende Hand se aanlyn werksoekportaal, Werknet, werk te soek. Helpende Hand het reeds finansiële studiehulp toegeken aan jongmense van die area om verder te gaan studeer en sal emosionele en skuldberading fasiliteer vir diegene wat dit benodig.

“Ons doen alles in ons vermoë om hierdie gesinne in dié moeilike tyd te ondersteun en vra vir Eskom se samewerking om hierdie gemeenskap op te hef,” sê Du Plooy.

Vir meer inligting rakende skenkings kan die Helpende Hand-streekorganiseerder in Limpopo, Marianthie van der Walt, by 082 741 7858 geskakel word.