Skip to content

ʼn Helpende hand vir Suid-Kaap se weerloses

000005Solidariteit Helpende Hand se Suid-Kaap-streek het in die afgelope paar maande daarop gefokus om weerlose kinders en gestremdes in die gemeenskap se armoede te verlig.

Die uitreikaksies het sommer al in Desember afgeskop met heerlike Kerspartytjies wat regoor die streek vir behoeftige kinders gehou is. Hugh McCabe, streekorganiseerder in die Suid-Kaap, vertel dat die geskenke wat by die Kerspartytjies uitgedeel is vir baie van die kinders die enigste geskenke was wat hulle vir Kersfees ontvang het.

Skooltassies is ook gedurende Januarie 2015 in Riversdal, Mosselbaai, Beaufort-Wes, Oudtshoorn, George, Knysna en Plettenbergbaai uitgedeel as deel van Helpende Hand se nasionale Skooltassieprojek. Hierdie tassies het menige graadeentjie breed laat glimlag.

ʼn Groot projek wat deur Helpende Hand se George-tak in 2014 aangepak is, Projek Hoekwil, is in Desember afgesluit met die opening van ʼn klaskamer vir kleuters by Laerskool Hoekwil.
“Daar was baie struikelblokke op hierdie projek se pad, maar die George-tak het vasgebyt en het saam met donateurs ʼn reusesukses van hierdie projek gemaak,” sê McCabe. Hy vertel dat die projek begin het toe die tak ʼn dringende nood vir nog ʼn klaskamer by die kleuterskool geïdentifiseer het. “Daar was ʼn bestaande klaskamer wat gebruik is as ʼn stoorkamer en die eerste stap was om ʼn skeepshouer te vind waarin hierdie sporttoerusting gestoor kon word,” verduidelik hy. “Die skeepshouer is deur ʼn donateur geskenk en toe is daar begin werk aan die klaskamer. Die klaskamer moes eers beveilig word sodat die kinders gerieflik daar kon klashê.”

Op 5 Desember 2014 is die splinternuwe klaskamer propvol opvoedkundige speelgoed aan die skool oorhandig. “Met hierdie wonderlik projek het Helpende Hand se George-tak vir kleuters die voorreg gegee om ʼn kleuterskool te kan bywoon wat andersins nie moontlik sou wees nie,” sê McCabe.

In Februarie was die George-tak ook betrokke by die jaarlikse OCC Rolstoelwedren op die dorp. “Hierdie ywerige tak het weer soos in die verlede ʼn waterpunt beman,” sê McCabe. “Die rolstoelwedren is vir almal ʼn belewenis en dit is ʼn voorreg om water te kan voorsien aan hierdie deelnemers met hulle wonderlike deursettingsvermoë.”