’n Pot vol koue water… kan ons toelaat dat nog ’n Afrikaanse kind honger gaan slaap?

My persepsie van armoede het drasties verander vandat ek by Solidariteit Helpende Hand roepingsdiens aanvaar het. Terwyl baie vir hul eie besluite verantwoordelikheid kan aanvaar, is daar lede van ons gemeenskap wat in omstandighede gebore word waaraan hulle self geen verskil kan maak nie. Kwesbare kleuters uit behoeftige gemeenskappe word in armoede gebore. Hulle het geen keuse of reg in die saak nie. Dit is egter daagliks hul werklikheid, en die groeiende agterstand en ellendes van armoede word hul deel in hierdie lewe wanneer niemand vir hulle intree nie.

Een van die roerendste gevalle wat ons teëgekom het, was hoe ’n bitter desperate enkelma, absoluut in armoede vasgevang, haar drie kinders in die bed sit voordat hulle aandete kan kry. Sy het dit gedoen omdat sy nie werklik aandete kan voorsit nie; daar is gewoon net nie enige kos om te gee nie. Die kaste is leeg, die beursie is leeg, die bank is leeg. Sy werk, maar kan slegs ’n enkelkamer vir haar gesin bekostig.

Sy sit ’n pot water op die stoof en maak asof sy dit kook, want sy kan net genoeg elektrisiteit bekostig om haar kinders in warm water te bad. Hulle moet darem skoon wees. Sy hou aan om die pot vol koue water te roer. Wanneer die kindertjies vra wanneer hulle gaan eet, sê sy: “Die kossies is amper reg, wag nog net ’n rukkie”. So wag sy dan tot haar honger kinders aan die slaap raak.

Sy het egter hoop. Haar kinders is in ’n kleuterskool in ’n behoeftige area van Pretoria. Sy weet ten minste hulle sal die volgende dag ’n ete en ’n versnapering deur Helpende Hand se voedingsprogram kry. Dit is sommige dae die enigste ete wat hulle kry. Nog erger – hierdie mamma is nie alleen in haar nood met kleuters wat honger moet gaan slaap nie.

Skokkende statistiek het na vore gekom in ’n onlangse navorsingsverslag deur Helpende Hand. Die verslag het die hongersnood onder behoeftige kleuters wat begunstigdes op Helpende Hand se voedingsprogramme is, ondersoek. In die kantoor het ons die verslag die ‘Slaap Honger-verslag’ gedoop. Hoekom? Want die verslag bevestig hoeveel kindertjies honger gaan slaap.

Die kernbevinding van die verslag is dat 31% van kleuters op die voedingsprogram steeds honger gaan slaap, ten spyte van die voeding wat hul daagliks kry. Die verslag het ook getoon dat 35% van die kleuters honger skool toe gaan. Hierdie syfers stem ooreen met die persentasie van ouers wat nie skoolfonds kan betaal nie of agterstallig daarmee is.

Twee-en-vyftig kleuterskole het aan die studie deelgeneem waarvan die kleuters ongeveer 4 800 van die begunstigdes op Helpende Hand se voedingsprogramme uitmaak. Uit die kleuterskoolonderwysers wat aan die studie deelgeneem het, het 85% bevestig dat die kleuters in die voedingsprogram na ʼn naweek honger by die skool aankom.

In 2018 het Helpende Hand aansoeke om voedingshulp vir meer as 12 000 kleuters deur 93 kleuterskole ontvang. Die projek voed tans net meer as 6 400 kleuters, maar Helpende Hand probeer daarby uitkom om ten minste 8 000 deur die program te ondersteun. Die behoefte vir behoorlike kleutervoeding is van kardinale belang vir hul ontwikkeling en ’n gelyke kans in die lewe.

Wat is hartseerder? Dit kan ek ongelukkig ook vertel. Hierdie drie kindertjies wat sommige aande getrou wag op ’n pot vol koue water, neem gereeld ’n stukkie, net ’n klein stukkie, van die daaglikse brood wat hulle op die voedingsprogram ontvang terug na hul huis toe. Hulle doen dit, want uit die wese van hul onskuld wil hulle ook graag net ’n ietsie vir hul honger ma neem om te eet….

Die feit is, daar is 12 000 behoeftige kleuters wat ons hulp vra. Wat word van ’n honger kleuter vir wie niemand intree nie? Kan ons bekostig dat nog ’n Afrikaanse kind honger gaan slaap?

Solidariteit Helpende Hand se #Stophonger-projek poog om 1,5 miljoen etes in 2018 vir 8 000 kleuters te borg. SMS die woord ‘Stop’ na 38969 en skenk ’n ete vir ’n behoeftige kleuter.

Ernst Vorster is adjunk- uitvoerende hoof: Gemeenskapsontwikkeling en Kommunikasie vir Solidariteit Helpende Hand