Skip to content

’n Reusebelegging in ons mense

Soos enige gesoute belegger gaan Solidariteit Helpende Hand in 2015 versigtig soek na dáárdie projekte wat vir ons en ons 30 000 ondersteuners die beste opbrengs op ons belegging gaan oplewer. Vir ’n finansiële belegger beteken dit ’n soeke na wins, maar vir ’n maatskappy sonder winsbejag (MSW) beteken dit ’n soeke na optimale sukses binne sy fokus. Vir Helpende Hand gaan dit steeds om die effektiewe verligting, voorkoming en verbreking van ons mense se swaarkry.

eskenkOns is baie opgewonde oor ons planne vir 2015 en elke projek se potensiaal om armoede op verskeie maniere te takel. Helpende Hand slaag steeds daarin om tussen 75c en 80c van elke geskenkte rand direk aan projekte te spandeer – meer as dubbel die aanvaarde wêreldnorm vir ’n MSW.

In sy biografie van wyle dr. Anton Rupert beklemtoon Ebbe Dommisse die belangrikheid van vennootskappe en samewerking. Vir Helpende Hand gaan 2015 ook weer ’n jaar van samewerking wees: enersyds met ons susterorganisasies binne die Solidariteit Beweging en andersyds met organisasies buite die Beweging wat ons visie en waardes deel.

Teen die einde van Januarie 2015 behoort daar meer as 25 000 leerlinge in Afrikaanse skole te wees wat hul skoolloopbane met ’n Helpende Hand-tassie begin het. Hierdie tassie, met sy skryfbehoeftes en opvoedkundige materiaal van hoë gehalte, is ons belegging om swaarkry in kinders se lewens te versag deurdat hulle hul skoling op ’n gelyke voet met hul klasmaats kan begin.

Helpende Hand is tans besig met ’n omvattende studie oor die dieet van behoeftige Afrikanerkleuters. Die resultate hiervan sal ons in staat stel om ons Kosblikkieprojek, wat voeding aan meer as 4 000 kinders landwyd bied, optimaal saam te stel. Op sy beurt sal dit tekorte in voeding uitskakel en verseker dat ons die beste opbrengs op ons belegging in kindervoeding behaal.

Afrikaanse skole is belangrike vennote vir Helpende Hand. Dit is instansies wat steeds aan ons kinders opleiding van wêreldgehalte bied. Die suksesse van dié skole spreek boekdele. Bykans ’n derde van alle wiskundeonderskeidings wat in die afgelope matriekeksamen behaal is, is deur leerlinge in Afrikaanse skole verwerf. Dit is veral merkwaardig as ʼn mens in ag neem dat skaars 13% van skole waar onderskeidings in dié vak behaal is, Afrikaans is.

Deur die Skoleondersteuningsentrum (SOS) van Helpende Hand gaan meer as 25 projekte ter waarde van miljoene rande by hierdie skole geloods word. Maak seker dat jou kinders of kleinkinders se skool hierby baat.

Vanjaar gaan Helpende Hand ook sy dienste onder bejaardes uitbrei. Benewens ad hoc-projekte vir en saam met ouetehuise en ander instansies, versorg Helpende Hand tans, deur middel van die Tuisgenoot-projek, 43 van ons land se armste Afrikanerbejaardes in vier dorpe. Hierdie projek gaan vanjaar baie vinnig groei. Ons wil dit uitbrei na tientalle dorpe om te verseker dat honderde behoeftige bejaardes behoorlik gevoed en versorg word.

Die voorkoming van jongmense se swaarkry deur hulle by te staan met hul opleiding is en bly Helpende Hand se passie. Meer as R20 miljoen se studiehulp sal in 2015 aan meer as 1 000 studente uitbetaal word – voorwaar ’n reusebelegging namens ons 30 000 ondersteuners. En die opbrengs? Goed gekwalifiseerde jongmense wat vir hulself en hul gesinne kan sorg.

Helpende Hand sien uit na ’n opwindende jaar van optimale belegging in ons mense, ʼn ligter las vir die wat swaarkry en ’n blinker toekoms vir Afrikaners.