ʼn Teater vol bejaardes, looprame en krukke

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Dis Donderdagoggend. Jy ontmoet ʼn vriendin vir ʼn vinnige cappuccino in die Brooklyn-winkelsentrum voor jou volgende vergadering. Ek is laat, tik jy met ʼn geoefende duim op jou foon terwyl jy deur die winkel se voetverkeer vleg.

En dan, skielik, bons jy vas in ʼn lyf voor jou wat veel stadiger as jy beweeg.

“Ekskuus,” mompel jy verskonend. Maar jou skuldig-voel sit byna dadelik om in ʼn wrewelrige frustrasie terwyl jy ʼn opening óm die mens voor jou probeer soek. Daar is nie een nie. Voor jou is ʼn bondel gryskop-ooms en -tannies wat verbete aan mekaar, hulle looprame en hul kieries vasklou en stadig maar seker vorentoe beweeg, terwyl mense agter hulle opdam.

Dalk is hierdie jou verhaaltjie

Maroela Media en Solidariteit Helpende Hand het Donderdagoggend die film Dominee Tienie, wat Vrydag by teaters landswyd begin wys het, by Ster-Kinekor se teater in Brooklyn vertoon, en vir ʼn spesiale bederf twee tehuise vir bejaardes genooi om hul inwoners te bring om saam te kom fliek.

Vir ons het dit geklink na ʼn heerlike, maklike bederf vir bejaardes wat waarskynlik selde die geleentheid vir so ʼn uitstappie kry.

Ongelukkig is daar ʼn rits faktore wat ons nie in gedagte gehou het nie

Van die grondvloer tot by die fliek is daar een hysbak, en ʼn roltrap. Min van die bejaardes sien kans vir die roltrap, want dit beweeg ʼn bietjie vinnig. Personeel van die tehuise organiseer behendig die bejaardes in groepies en help hulle om in die hysbak te klim. Iemand anders ontvang hulle bo, en stuur hulle in die rigting van die teater. Hier dwaal ʼn oom af, en daar gaan soek ʼn tannie ʼn badkamer. ʼn Groepie ooms en tannies besluit vir dié stadige hysbak-spulletjie is hulle nie lus nie; hulle gaan sommer die roltrap aandurf. Toe die voorste tannie byna bo is, trap sy mis en sloeg op die harde trappe neer. Dankie tog sy val nie ondertoe nie. Die roltrap stoot haar genadeloos tot bo, waar sy geskok en met bloed wat teen haar slaap afloop, bly sit. Haar bors begin fluit; ʼn asma-aanval dreig. “Help,” skree iemand, en van oral kom mense aangedraf met water en noodhulptoerusting.

Agter haar begin die verkeer op die roltrap opdam – nóg bejaardes wat nie vinnig genoeg verby haar kan kom nie, maar ook nie die pas kan aanhou makeer op die bewegende trappies agter haar nie. Dis ʼn dreigende ramp.

Gelukkig dink een van die teater se personeel daaraan om die roltrap af te skakel, en die krisis word afgeweer. Ons help die tannie tot op ʼn bankie. Intussen het die eerste klompie mense by die teater aangekom, en elkeen moet ʼn sitplekkie kry. Tee- en koffiekoppies en eetgoed staan netjies uitgestal buite die ingang, maar almal sê nee dankie, want hoe gemaak as hulle in die middel van die vertoning ʼn draai moet gaan loop?

Intog

Nou begin die intog in die teater in. Met die eerste tannie wat ʼn loopraam gebruik, kom die besef: die loopraam se pote is verder uit mekaar as die diepte van ʼn fliekteater se trappies. Die looprame bly dus almal bo, en die bejaardes word een-een, treetjie vir treetjie en stewig onder albei elmboë gestut, met die trappies afgehelp en ʼn sitplek gegee. Vir sommige vir wie die storie reeds erg uitputtend is, word ʼn koppie tee en ʼn koeksister van buite aangedra. Een tannie vra water, want dis tyd vir haar medikasie.

Voor almal ʼn sitplek het, besef ʼn oom in die tweede ry van voor dat hy vergeet het om ʼn draai te loop. Op teen die verkeer help ons hom tot buite, en tot by die badkamer se ingang.

Buite die teater staan die teaterbestuurder benoud haar horlosie en dophou. Ons is reeds ʼn halfuur agter skedule, en die volgende vertoning moet betyds begin. Frank Opperman wat die hoofrol in Dominee Tienie speel, die regisseur Sallas de Jager, en een van die akteurs Luan Jacobs, staan geduldig en wag vir ʼn kans om hul sitplekke heel voor te gaan inneem.

Maar uiteindelik sit almal en die fliek kan begin. Ek is nie seker wie die meeste natgesweet is nie: ons, die bejaardes of die personeel van die tehuise.

Die fliek

Dominee Tienie begin speel. Binne tien minute het ons almal vergeet van looprame, van pyne en skete, van pilletjies wat gedrink moes gewees het, van die gesukkel met trappe en hysbakke en looprame. Hulle vergeet van kleinkinders wat hulle lank laas kom besoek het; van ʼn geliefde eggenoot wat verlede jaar oorlede is; van ʼn troeteldier wat moes agterbly toe hulle ouetehuis toe trek. Die wonder van ʼn goeie storie gebeur met hulle. Hulle word deel van dominee Tienie se wêreld. Hulle lag hardop vir die gogga in die nagmaalwyn, en druk gefrommelde snesies onder hul brilrame in terwyl die trane loop oor Sparkie se meestersgraad in Sielkunde. Hulle kén die mense in dominee Tienie se storie: Hulle ken vir Mevrou Dominee, wat begeer dat iemand haar Ester noem; hulle ken vir Zero en oom At, sonder wie geen plattelandse kerk kan oorleef nie; hulle ken die klanke van ʼn orrel op ʼn Sondagoggend in ʼn halfleë moedergemeente. Hulle ontsnap vir ʼn uur en ʼn half na ʼn dorpie wat eens, lank gelede, hulle tuisdorp was.

Toe die ligte aangaan, begin die proses van voor af, hierdie keer net omgekeerd. Maar iets is tog anders. Die looprame skuif ʼn bietjie meer ligvoets vorentoe. Oë agter goue brilrame blink sag. Geplooide wange trek in ʼn glimlag. Dankie, sê elkeen wat uitstap. Dít was nou ʼn mooie storie.

Was dit die moeite werd?

Nee, sou ek dalk gesê het as jy vooraf vir my vertel het van die struikelblokke en uitdagings.

Beslis, sal ek nou antwoord. Dit was beslis die moeite werd.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media