Skip to content

Nicolise Schambriel van Phalaborwa se hand staan vir niks verkeerd nie

Nicolise Schambriel is onlangs deur Solidariteit Helpende Hand aangewys as die nasionale vrywilliger van die jaar. Daarby is sy ook die voorsitter van die Phalaborwa-tak, wat aangewys is as die Nasionale tak van die Jaar in die Limpopo-streek.

Schambriel is nou reeds ses jaar lank ’n vrywilliger en ondersteuner van Helpende Hand. Toe die tak in 2009 op die been gebring is, is sy as voorsitter verkies. Vandag, sewe jaar later, is sy steeds ’n raakvatter, wat enige taak kan baasraak.

Een van Schambriel se grootste uitdagings tot op hede was die likwidasie van die Cons Murch-myn aan die begin van die jaar. Maar sy het nie ’n oomblik lank gehuiwer voor sy ingespring het en in volle ywer vir 38 gesinne begin sorg het.

Die Phalaborwa-tak, saam met die Tzaneen-tak het hulle staal gewys toe hulle verseker dat dat daar nie een aand ’n honger magie op Cons Murch was nie – almal, van lede tot troeteldiere, kon elke aand tevrede gaan slaap. Babas het genoeg doeke en melk gehad, toiletware is verskaf en daar is in alle basiese behoeftes voorsien.

Die tak poog om die Phalaborwa-gemeenskap se weerlose te beskerm en bevorder met ’n wye verskeidenheid van projekte. Die tak het sedert verlede jaar Augustus 16 projekte aangepak wat op ’n weeklikse basis voortgesit word. Die projekte val reg in met Helpende Hand se fokus, om Afrikaner armoede te verlig, voorkom en verbreek. Die tak is daarom deur Helpende Hand vereer as een van die agt Nasionale Takke van die Jaar.

Helpende Hand se takke, wat uitsluitlik bestaan uit vrywilligers, het die afgelope twee jaar ’n daadwerklike verskil in die lewens van hulle gemeenskappe gemaak. Helpende Hand het tans 139 takke landswyd en die getal groei maandeliks. Bykans 1 500 vrywilligers het dit vanjaar vir die takke moontlik gemaak om 798 projekte ter waarde van R3,2 miljoen uit te voer.

Vir meer inligting oor die Phalaborwa-tak se projekte, kontak vir Nicolise Schambriel op 060 789 6640 of besoek www.helpendehand.co.za en raak vandag nog deel van hierdie raakvat-span!