Nie eens ’n derde van skole presteer in Wiskunde nie

Kenners in die veld van navorsing, Africa Check, het hulle eie studie oor die 2016 matriekuitslae gedoen. Hulle bevindings is dit eens met Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) se verslag. Afrikaanse skole behaal 16,2% van alle wiskunde onderskeidings in 2016.

 

Africa Check het besluit om navorsing te doen oor die prestasie van Afrikaanse skole se matrieks in Wiskunde nadat foutiewe inligting die rondte begin doen het. In hulle onafhanklike studie het hulle bevind dat Afrikaanse skole slegs 6.6% van skole uitmaak wat onderskeidings in Wiskunde behaal het, maar dat hulle 16.2% van die onderskeidings verwerf.

 

Daarenteen beslaan Engelse medium skole 83.6% en het slegs 69.6% van die onderskeidings verwerf.

 

Volgens Hugo Vermeulen, hoof van die SOS is Africa Check bekend vir hulle deeglike navorsing en deursigtigheid. “Ons is baie bly dat ’n instansie soos Africa Check die tyd geneem het om die feitelike inligting te verifieer,” sê Vermeulen.

 

Die SOS verslag het skole as Afrikaans gekwalifiseer as hulle Afrikaanse Huistaal aanbied. Op hierdie metode het die SOS bepaal dat 721 Afrikaanse skole 2 576 onderskeidings behaal het, of liewer 31.9% van die totale onderskeidings. Dit beteken dat ’n kind wat in ’n Afrikaanse skool matrikuleer ’n 2,5 keer groter kans het om ’n onderskeiding in matriek te verwerf.

 

Met Africa Check se navorsing is daar amptelik net 132 suiwer Afrikaans geregistreerde skole in Suid-Afrika wat verlede jaar matriek geskryf het.  Hierdie 132 skole verteenwoordig in werklikheid dus slegs 1,9% van alle skole wat matriek (6 814) geskryf het.  Hierdie 1,9% skole lewer 16,2 % van alle Wiskunde onderskeidings.  ’n Leerling in ’n Afrikaanse skool het ongeveer agt keer beter kans om ’n onderskeiding in matriek te behaal as enige ander tipe skool.

 

“’n Ander manier om daarna te kyk is dat 29,3% uit 6 814 skole verantwoordelik is vir al die  Wiskunde prestasie in Suid-Afrika.  Dit bly maar ’n bekommernis dat net ’n klein groepie skole, hetsy Afrikaans of Engels die goeie resultate lewer.  Waar is die res?” vra Vermeulen.

 

“Ons Afrikaanse skole vaar heelwat beter as wat ons self gedink het,” sê Vermeulen. “Die SOS glo dat ons ook ’n aandeel in hierdie prestasie het, al is dit klein. Ons bied opleiding aan meer as 1000 Afrikaanse Wiskunde onderwysers en het ook gratis wiskunde-klasse vir ons lede se kinders.”

 

Vir meer inligting oor wat die dienste wat die SOS aanbied om gehalte wiskunde onderrig in Afrikaanse skole te verseker, besoek www.ekstrawiskunde.co.za.