BRIEF 156: ‘n Lewensles van my pa
#LieweLeser
In een van my vorige briewe het ek al oor my pa se een lewensles geskryf. Sommige lesse kom stilweg in 'n gewone oomblik en bly dan vir lank in jou hart. My pa se woorde was so 'n les: "Kom ons vier die goeie ou dae … soos vandag."
Toe hy dit gesê het, het dit amper eenvoudig geklink, maar hoe meer ek daaroor dink, hoe meer besef ek dat daar 'n diep waarheid daarin lê. Ons leef so maklik met ons gedagtes óf in die verlede óf in die toekoms. Ons onthou die "goeie ou dae" met 'n sagte verlange, of ons wag vir 'n beter tyd wat nog moet kom. Intussen glip vandag verby, ongemerk en ongevier. My pa het my egter geleer dat die goeie ou dae nie iets is wat eers eendag gaan bestaan nie. Dit is iets wat jy besig is om te skep terwyl jy leef.
Die waarheid is dat jy nie die verlede kan terugbring om dit beter te maak nie, en dat jy nie altyd die toekoms kan beheer soos jy wil nie. Wat jy wél kan doen, is om te kies om die goeie in vandag te sien. Jy kan kies om teenwoordig te wees. Jy kan kies om dankbaar te wees. Jy kan kies om hierdie oomblik te waardeer – nie omdat dit perfek is nie, maar omdat dit eg is.
'n Goeie lewe begin nie eers eendag in die toekoms nie; dit word reeds nou, in die hede, beleef en gevorm. Dit word geskep met die manier waarop jy vandag leef. Met die manier waarop jy mense behandel. Met die manier waarop jy na jouself kyk. Met die manier waarop jy die klein dingetjies raaksien wat maklik oor die hoof gesien kan word.
Miskien is dit die mooiste deel van my pa se lewensles: dat dit nie net oor groot oomblikke gaan nie, maar oor die gewone, alledaagse oomblikke wat, wanneer jy terugkyk, die ware skat van jou lewe vorm.
Nee, liewe Leser, jy hoef nie vir die goeie ou dae te wag as jy reeds daar is nie. Ek is dankbaar vir 'n man soos my pa, want my pa leer ons nie net met groot woorde of duidelike instruksies nie, maar dikwels met die manier waarop hy leef.
Pa's leer ons hoe om te leef, nie net vir vandag nie, maar vir elke dag wat nog kom. Dankie, pa's! Mag ons nog baie oor die lewe by julle leer.
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5