Brief 174: Dit vat een

#LieweLeser

Ons praat dikwels oor sukses asof dit die produk van selfvertroue, deursettingsvermoë en harde werk is. Ons luister na die verhale van mense wat groot gedroom het, struikelblokke oorkom het en nooit opgegee het nie. Dit is die inspirerende en motiverende verhale wat ons nodig het om aan te hou wanneer die pad moeilik raak. Wat ons egter selde sien, is die mense agter hierdie verhale, die mense wat in iemand geglo het lank voordat daardie persoon self kon glo dat die droom moontlik is.

Daar kom oomblikke in 'n mens se lewe wanneer 'n droom so ver van jou werklikheid af lyk dat jy begin wonder of jy dit ooit sal bereik en of dit die moeite werd is. En dis wanneer ons daardie een mens nodig het wat in ons drome bly glo. Want soms verg sukses net een mens wat in jou glo ongeag die struikelblokke op jou pad.

Die Studietrust ontvang gereeld briewe van studente af; het jy dit geweet, liewe Leser? Agter elke brief is daar 'n student wat hard werk, maar soms sukkel en oorweldig voel. En dis wanneer hulle uit dankbaarheid begin skryf, omdat hulle weet hulle moenie die kans wat vir hul gegee is onderskat nie. Jy kan amper deur die briewe voel hoe hulle weer opnuut besef dat dít wat hulle doen 'n roeping is en daarom is opgee nie 'n opsie nie.

Wanneer 'n mens al die briewe saam lees, besef jy eintlik dat die waarde van die ondersteuning verder as net finansiële hulp strek. Dit gee aan 'n jong mens die geleentheid om 'n droom te volg, potensiaal te ontwikkel en met groter sekerheid aan 'n toekoms te bou. Dit gee hoop. Die studente weet dat daar baie van hulle verwag word, maar hulle weet ook dat iemand bereid was om in hulle te glo, en dis waarom die Studietrust briewe ontvang.

Die belegging wat vandag in hierdie studente gemaak word, eindig nie by hulle nie. Hulle wil eendag kundiges wees wat met kennis, deernis, integriteit en diensbaarheid 'n verskil maak. Wat vandag as 'n studielening begin, kan dus uiteindelik 'n hele ketting geleenthede word. Dit vat een persoon, een span en een organisasie wat in 'n mens glo om daardie mens vir die onmoontlike te laat kans sien. Dis welstand deur werksyn plus een.

 

Vriendelike groete

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

https://hh-studietrust.co.za/

BRIEF 174_Dit vat een.1